GEORGE NUUS - ’n Gesin van vyf se huis is gisteraand, Saterdag 31 Januarie, in ’n oogwink feitlik heeltemal in puin gelaat toe ’n volgelaaide vervoertrok in hul huis in Saturnusstraat ingeploeg het.
Die huis is op ’n draai teen ’n afdraend geleë. Die vier gesinslede wat tuis was, Henry (53) en Elise (54) Noonan en twee van hul seuns Wayden (31) en Kenan (25), het wonderbaarlik met geringe beserings ontkom.
Mev. Noonan was vanoggend nog te geskok om met die George Herald te praat, maar mnr. Noonan het per telefoon vanuit die George-hospitaal vertel hy en sy vrou het in die sitkamer gesit toe sy skielik ligte in die straat gesien het.
“Sy sê toe vir my daar kom ’n trok aan en dit lyk of hy by ons erf inkom. Toe ons weer sien, was die impak daar en die trok vat die muur en hy skuif ons saam met die banke en gooi ons na die badkamer toe. Ons was onder die rommel waar ons gesit het tot hulle ons kom uithaal het. Dit het alles binne oomblikke gebeur.”
Wayden en Kenan was in hulle slaapkamer.
“Ons beserings is nie ernstig nie, maar ons het baie pyn. My vrou het haar rug seergemaak en my een been het seergekry. Die een seun het ’n hou teen sy kop gekry en die ander een se een arm en been is beseer.”
Die Noonans woon al van 1982 in die huis wat mnr. Noonan by sy ma geërf het. Hulle het nêrens om heen te gaan wanneer hulle uit die hospitaal kom nie. Daar is geen versekering op die huis of inhoud nie.
Volgens die Noonans se ander seun, Rayden, kon ’n herwinningsvoertuig eers teen 03:00 vanoggend daarin slaag om die vragmotor uit die erf te kry. "Dis 'n wonderwerk dat hulle lewendig hier uitgekom het," het 'n geskokte Rayden gesê.
Die venster van die slaapkamer waardeur Wayden en Kenan uitgehaal moes word.
Lede van die buurtwag staan wag op die toneel.
Volgens omstanders op die toneel vanoggend is die trokbestuurder ook in die hospitaal opgeneem. George Herald het na die trokmaatskappy uitgereik en wag vir hul terugvoer.
Volgens konstabel Ndakhe Gwala van die polisie se Wes-Kaapse mediakantoor, het die Conville-polisie ’n saak van roekelose en nalatige bestuur geregistreer.
“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek,” het Gwala gesê.
'n Foto van Henry Noonan hang nog teen die muur in die agtergrond.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’