GEORGE NUUS - Dertig jaar nadat die hoeksteen van die George Vryburgerskorps se klubhuis op 3 September 1996 gelê is, staan die gebou steeds as ’n herinnering aan die mense wat deur die jare gehelp het om ’n tuiste vir gemeenskapsdiens te vestig.
Stan Mengel, die stuurman, sê vandag, Donderdag 3 September, vier die korps hierdie besondere mylpaal met dankbaarheid teenoor die mense en ondernemings wat drie dekades gelede in die projek geglo het.
"Die klubhuis het aanvanklik as ’n bouprojek begin, maar het met verloop van tyd veel meer geword as net ’n gebou. Dit het ’n plek geword waar mense saamkom, diens lewer, mekaar ondersteun en na die gemeenskap omsien," sê hy.
Die name van individue en ondernemings wat bygedra het tot die oprigting van die klubhuis, is steeds op die skenkerbord te sien. Sommige van dié ondernemings bestaan nie meer nie, terwyl ander oor die jare verander het.
Mengel sê die bydraes van almal wat betrokke was, vorm egter steeds deel van die George-korps se geskiedenis.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor elke persoon, familie, onderneming en ondersteuner wat gehelp het om die klubhuis moontlik te maak. “Julle het meer as bakstene en hout gegee. Julle het gehelp om ’n tuiste vir gemeenskapsdiens te vestig."
Die klubhuis het intussen ’n besondere plek binne die Vryburger-beweging ingeneem. Dit is vandag een van slegs drie Vryburger-klubhuise in Suid-Afrika.
"Die 30 jaar verteenwoordig nie net ’n gebou se geskiedenis nie, maar ook drie dekades van herinneringe, diens en mense wat bereid was om saam te staan," sê Mengel.
“Ons vertrou dat die volgende hoofstuk steeds gevul wees met hande wat help, harte wat omgee en mense wat bereid is om saam ’n verskil te maak."
Die hoeksteen is vandag 30 jaar terug onthul. Foto: Verskaf
'n Lys van donateurs wat bygedra het tot die oprigting van die klubhuis. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’