GEORGE NUUS - Nie net het die George Korps van die Vryburgers 'n baie suksesvolle Nasionale Burgerraad in Wilderness van 19 tot 21 Mei aangebied nie, maar George Vryburgers het weereens met sy Kos vir Kinders-projek, die nasionale projek van die jaar-trofee verower.
Die geleentheid is deur 12 korpse van die land en sowat 80 lede vanoor Suid-Afrika bygewoon. Dit was van plekke sover as Hopefield, Rustenburg en Ermelo.
"Ons is trots om te sê ons Kos vir Kinders-projek het al 10 keer gewen. Vanjaar was die vyfde keer in 'n ry," het Hildred Basset van die George Vryburgers Dinsdag gesê.
"Daarvoor wil ons graag die gemeenskap van George bedank vir elkeen se bydra om die projek met soveel oorgawe en ywer te kan dryf.
"Ons voorsien tans vir 108 kinders in ons onmiddellike omgewing (ses skole) elke skoolgaande dag van 'n gesonde kospakkie. Op die manier motiveer ons ook hierdie kinders om skool by te woon. In baie gevalle is dit die leerder se enigste kospakkie vir die dag. Die kospakkies word anoniem aan die kinders verskaf.
"Ons doen graag 'n beroep op die George- gemeenskap om met die George Vryburgers kontak te maak as iemand sou wou betrokke raak deur die kinders te help. Hulle is immers die toekoms van ons land."
Volgens hom kan net 'n R100 aftrekorder elke maand die wêreld se verskil in hierdie honger kinders se lewens maak.
Marius Venter, voormalige stuurman van die George Korps, is by die Burgerraad tot die visepresident op die Nasionale Dagbestuur verkies.
"Wel gedaan Marius. Ons is trots op jou en weet jy gaan 'n groot sukses van jou pligte op dagbestuur maak," het Basset gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’