GEORGE NUUS - Vryburger Omgeemense van Suid-Afrika het hul jaarlikse saamtrek tydens die Burgerraad 2024 in Rustenburg in Noordwes gehou.
Dit het van 17 tot 19 Mei by Sugar Bush Hill plaasgevind en is deur die Rustenburg Vryburgers aangebied.
Dit is 'n jaarlikse spoggeleentheid waar die manne 'n tafel deel om 'n paar idees uit te ruil, te hoor hoe ander korpse oor die land hul bearbei vir die taak op hande, spesifiek wanneer dit kom by die Vryburger nasionale projekte soos Woordverspreiding, Tamaaibraai en sy vlagskip, Kos vir Kinders-projek.
Die program het afgeskop met 'n heerlike geselligheid die Vrydagaand waar korpse vanoor die land mekaar beter leer ken het en saam gekuier het.
Die Saterdagoggend was dit skouer aan die wiel met die Burgerraad-vergadering waar statistiek, idees, asook visie en missie deur nasionale dagbestuur gedeel is.
Die naweek is afgesluit met 'n dinee, 'n formele geleentheid waar korpse vereer is vir hul konstante harde werk deur die jaar.
George se Vryburgers het inwoners trots gemaak nadat hulle weer met die louere weggestap het.
Die korps het die trofeë verwerf vir Basuin van die jaar, Nasionale Projek van die jaar vir sy uitnemendheid - Kos vir Kinders-projek, asook die uitmuntende prestasie om as mees aktiewe korps van die jaar aangewys te word. Dit is uit 21 korpse oor die land versprei.
"Dis 'n groot voorreg en ons voel baie geëerd" het Hildred Basset, stuurman van George Vryburgers gesê.
"'n Mens moet tog nooit uit die oog verloor wat die gemeenskap van George se bydrae tot die Vryburgers se sukses is nie. Sonder fondse kan ons nie doen wat ons doen nie, kan ons nie 140 kinders in ons onmiddellike omgewing op die skoolbanke voed met daai een moontlike maaltyd op 'n dag nie," het hy bygevoeg.
Voor, van links: Gerhard van der Walt, Hildred Basset (stuurman), JG Kriek (basuin) en Marius Venter (visepresident dagbestuur). Agter: Marlise van der Walt, Engela Basset, Nanja Kriek en Liezl Venter.
"Ons vra dus dat die gemeenskap ons sal aanhou ondersteun - hetsy deur donasies en of ons fondsinsamelings projekte. Op die manier kan ons voortbou op dit wat reeds 'n ongelooflike impak in George maak."
Vir meer inligting oor die werksaamhede/donasies van die George Vryburger Omgeemense, kontak Hildred Basset by 072 704 8300.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’