GEORGE NUUS - Die George-Suid-buurtwag (GSB), wat by die departement van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid geregistreer is, is in Desember 2024 gestig ná 'n reeks voorvalle wat die veiligheid van George-Suid se inwoners in gedrang gebring het.
Sedertdien het die buurtwag hom ten doel gestel om 'n veiliger woonbuurt te skep deur gereelde patrollies uit te voer, opgeleide en gekeurde vrywilligers in te span en vinnig op die voorvalle en noodgevalle wat deur inwoners gerapporteer word, te reageer.
Die GSB werk nou saam met die polisie en plaaslike sekuriteitsmaatskappye om misdaadbekamping in die gebied te versterk.
Volgens die organisasie het sy patrollies reeds tot 'n aantal noemenswaardige suksesse gelei, insluitende verskeie arrestasies van onwettige immigrante en dronk bestuurders tot die besit van dwelms en gevaarlike wapens.
Die lede se deursettingsvermoë het vroeër vanjaar ook bygedra tot die veilige opsporing van die 10-jarige verkragtingslagoffer wat vermis geraak het, asook die inhegtenisname van die vermeende verkragter naby die skouterrein.
Alle patrolleerders doen diens op vrywillige basis en dra hul eie koste om George-Suid se inwoners veilig te hou. Twee van die lede het vroeër vanjaar hul noodhulp vlak 3-kwalifikasies suksesvol voltooi.
Danksy 'n onlangse skenking beoog die GSB om binnekort 'n reeks sekuriteitskameras op strategiese hoërisikopunte in die buurt te installeer.
Die organisasie spreek sy dank uit teenoor die inwoners en sakeondernemings wat reeds finansieel bydra, maar sê hierdie ondersteuners is in die minderheid. "Selfs die kleinste bydrae kan ons help om nog kameras te installeer, wat almal in die buurt sal bevoordeel," sê die buurtwag se Marlene Swart.
Diegene wat meer wil uitvind oor die buurtwag, by die WhatsApp-groepe wil aansluit of self wil betrokke raak, kan die GSB by 082 785 9859 skakel.
Gene Nefdt en Pieter Jonker, wat onlangs hulle vlak 3-noodhulpkursus voltooi het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’