GEORGE NUUS - Edmondo van der Berg, ’n voormalige onderwyser van George, is aangewys as ’n finalis in die Netwerk24 Smaakmaker-toekennings in die kategorie Onderwys-Smaakmaker.
Van der Berg het bevordering ontvang en is tans in Kuilsrivier.
Lesers van George Herald sal hom onthou as die ‘TikTok-onnie’, die onderwyser wat landwyd aandag getrek het toe hy sosiale media op ’n vars, positiewe en opvoedkundige manier begin gebruik het om die graadsewes in sy registerklas by Pacaltsdorp Primêr te bereik.
Die koerant het verlede jaar in Junie berig oor hoe sy kort, toeganklike video’s nie net leerders nie, maar ook ouers en mede-opvoeders geïnspireer het, en bewys het dat onderwys kan aanpas by ’n nuwe digitale era sonder om sy kernwaardes prys te gee. Van der Berg se foto saam met ’n gr. 7-leerder het op die voorblad gepryk.
Die Smaakmaker-toekennings, aangebied deur Netwerk24 in samewerking met Rapport en Die Burger, erken individue wat ’n werklike invloed uitoefen en gesprekke aan die gang sit. Die Onderwys-Smaakmaker-kategorie fokus op opvoeders wat leer kreatief, relevant en toeganklik maak - presies dit waarvoor die ‘TikTok-onnie’ bekend geword het.
Van der Berg se benoeming bevestig die rol wat hy gespeel het om onderwys op ’n moderne, menslike manier nader aan jongmense te bring.
Só kan jy stem:
- Gaan na die amptelike Netwerk24 Smaakmaker-stemblad:
- Soek die kategorie Onderwys-Smaakmaker.
- Kies Van der Berg uit die lys van finaliste, voltooi en dien jou stem in.
- Let wel: Jy mag dalk moet inteken of registreer op Netwerk24 om te kan stem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’