Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Die legendariese Jannie (Jan Abraham) Meyer, voormalige redakteur en sportredakteur van George Herald, wat sy lewe lank in die koerantbedryf gewerk het, is op Donderdag 6 Oktober op 75-jarige ouderdom in die Life Knysna privaat hospitaal oorlede.
Hy het die vorige Woensdag begin siek voel terwyl hy by sy dogter en skoonseun, Juanita en Jackson van Vuuren in Knysna gekuier het en is in die hospitaal opgeneem.
Jannie het inwendig gebloei weens 'n aneurisme in sy aorta wat 'n paar jaar gelede gediagnoseer en gemonitor is. Die aneurisme het begin lek en ernstige bloeding veroorsaak.
Twee noodoperasies is op hom gedoen, maar hy is Donderdagmiddag omstreeks 16:00 oorlede.
Jannie was een van die bekendste en mees geliefde inwoners van George, nie net oor sy posisie as koerantman nie, maar ook die heerlike spitbraaie wat hy en sy oorlede vrou, Johlene, vir baie jare vir funksies gedoen het.
Johlene is in Augustus 2020 aan kanker oorlede, net enkele maande na die dood van Jannie se ma op ouderdom 90. Die egpaar het hulle seun, Jan, in 2009 in 'n motorongeluk verloor.
Jannie is op 8 September 1947 in Blanco gebore en ook daar getoë. Hy het sy skool-loopbaan aan Laerskool Blanco en Hoërskool Outeniqua voltooi en daarna by die tegniese afdeling van die George-poskantoor gewerk, maar gereeld vryskutwerk vir die plaaslike koerant, Het Suid-Western gedoen.
Ná vier jaar kon hy sy passie vir die koerantwese begin uitleef toe hy in 1969 as joernalis by die koerant aangestel is.
Hy het alles gedoen, van politiek en misdaad tot howe, sosiale nuus, padongelukke en sport. Veertien jaar later is hy as redakteur aangestel en in 1985 is Het Suid-Western deur Group Editors gekoop en George Herald het kort daarna die lig gesien.
In sy jong dae was hy lief vir mooi aantrek.
'Gentleman', bobaasverteller, edele vegter
'n Voormalige kollega van Jannie, senior joernalis van Suid-Kaap Forum Hugo Redelinghuys, onthou hom as 'n bobaasverteller. "Hy kon enige storie tot by oom Daantjie in die kalwerhok gaan haal en selfs so ver terug soos Jan van Riebeeck se landing."
"Jannie Meyer was 'n legende wat in 'n voortreflike loopbaan van meer as 40 jaar met kalmte, waardigheid en ewewig in die voorste loopgrawe die stryd gestry het. Op sy beskeie manier het hy gesag afgedwing en soms in gespanne situasies bestendigheid en 'n kalmte gebring wat hom die respek van baie mense laat verdien het, veral diegene wat met hom verskil het.
"In sy werks- en persoonlike verhoudings was hy 'n heer - Jannie sou die woord 'gentleman' verkies het - en 'n voorbeeld van innerlike krag vir almal wat hom goed geken het.
"Die Group Editors-familie het 'n edele vegter verloor, een sonder 'n ons bedrog in hom. Janneman sal bly voortleef in die gedagtes van diegene wie se paaie hy gekruis het. Sy verdraagsame en besadigde persoonlikheid sal erg gemis word."
Hy was a kranige rugbyspeler.
Veelsydig en kreatief
Jannie se seun Mardre skets sy pa as 'n dinamiese, veelsydige man met 'n ryk verbeelding en kreatiwiteit wat sy vier kinders se lewens geweldig verryk het, meer as wat rykdom dit ooit sou kon doen. Hy was 'n tekenaar en skilder wat self spotprente vir die koerant geteken het. Van jongs af het hy homself in sy skryfwerk uitgeleef en toe reeds bydraes vir die koerant gelewer.
In sy jong dae was hy 'n kranige rugby-speler wat vir die destydse Blanco-rugbyklub uitgedraf het. Jare nadat hy ophou speel het, het hy nog die rekord gehou vir die lid wat die meeste drieë in een wedstryd gedruk het.
Werklik beter, sterker en slimmer
"My pa was voorwaar een van daardie pa's wat werklik beter, sterker en slimmer was en wat alles kon doen. Ons het gereeld saam met ander gesinne by die see gebraai en as ek al die pa's so saam gesien het, was ek elke keer net so dankbaar dat hy ons s'n was. Ons het na hom opgesien.
"Buiten die feit dat hy kon sweis, houtwerk doen, kosmaak, karre regmaak en as seremoniemeester en omroeper by sportwedstryde optree, het hy ons met sy verbeeldingrykheid speel-speel geleer om te werk in die tuin of ander take te verrig.
"Hy het tot letterkwasverfwerk op reklameborde gedoen en toneel gespeel as lid van die destydse Rederykers-toneelgroep. Hy het stemwerk vir SAUK-radiodramas gedoen en homself fotografie geleer. Sy donkerkamer in die motorhuis is steeds daar."
Jannie het bokse vol foto's, onder meer van PW Botha se persoonlike lewe en van homself in Botha se huis.
Hy was vir verskeie jare ook voorsitter van die Lions-klub waar hy sy omgee vir mense ten volle kon uitleef. "My pa het altyd gesê titels maak nie saak nie. Ons is almal net mense en moet mense erken vir wie hulle is en nie vir wie ons dink hulle is nie. Elkeen wat oor sy pad gekom het, het hy altyd dieselfde behandel. Hy het werklik omgegee."
Jannie het met net twee vingers getik.
Heel eerste potlood, liniaal
Jannie was 'n ongelooflike bron van inligting oor George en Blanco. Mardre sê sy pa was passievol oor die hele streek, maar het 'n ekstra spesiale plek in sy hart gehad vir Blanco.
"Hy was uiters sentimenteel en het dinge versamel. Toe hy met sy aftrede uit sy kantoor trek, het hy sy heel eerste potlood, liniaal en krammasjien wat hy gekry het toe hy begin werk het, vir my gegee. Die oorhandiging was 'n spesiale oomblik. Ek het ook al sy ou kameras."
Agter die kamera. Sy seun Mardre het al sy ou kameras.
Jannie en Johlene
Jannie en Johlene het ontmoet toe hul onderskeie broers hulle aan mekaar voorgestel het terwyl die twee families in Calitzdorp vakansie gehou het. Op daardie stadium was Johlene 'n onderwyseres in Barrydale. Sy het uiteindelik George toe getrek waar hulle getroud is.
Die egpaar het 'n paar jaar nadat hulle getroud is, in Jannie se ouerhuis in Voortrekkerstraat in Blanco ingetrek en daar sou hulle met hul kinders kosbare herinneringe skep.
"My ma was swanger met my broer Jan, en Juanita was toe reeds gebore toe hulle die huis, wat toe in 'n erg vervalle toestand was, opgeknap en leefbaar gemaak het. Ons ouerhuis is deurdrenk van die geskiedenis. Dit was eens 'n herberg vir voorryers en het 'n klomp klein kamertjies gehad. Soveel van die geskiedenis van Blanco is in ons familie se lewens verweef.
"Die markplein was op die hoek oorkant die pad. Die laerskool is ook begin deur my pa se familie. Sy neefs en niggies en sibbe woon almal nog in George. Baie van die grond hier rondom het aan die Meyers behoort, onder andere die saagmeule wat nou Fancourt se kwekery is. Ons het almal by Laerskool Blanco en Hoërskool Outeniqua skoolgegaan."
Die Meyers se huis was altyd oop vir kuiergaste en die gasvrye Jannie het graag mense wat hy deur die koerant ontmoet het, soontoe genooi.
"My ma het dit omarm en daar was altyd iets te ete. Ons vriende het ook hier gekuier. Op hierdie manier het my ouers aan baie mense leiding gegee en 'n plek waar hulle geliefd en tuis gevoel het. Ek glo my ouers is op die aarde gesit om saam kinders groot te maak en nie net hul eie nie, maar ook ons vriende."
Soos so baie mense hom geken het, besig om 'n spit op te stel.
Die braaimeester
Jannie en Johlene het oor 'n tydperk van 42 jaar meer as 22 000 lammers, 38 osse, baie hoenders en varke en selfs 'n krokodil op die spit gebraai. Hulle het ook 'n rekord opgestel deur 500 heel hoenders op 'n spit van 75 m lank tydens die Knysna-oesterfees te braai.
Jannie het voortgegaan met die spitte tot sy dood. Sy jongste dogter, Mariska Wessels, wat in George woon, het vir haar ma ingestaan deur die slaaie te maak.
"Vir my pa was versoeke wat kliënte wat onmoontlik gelyk het, 'n uitdaging en dan het hy en my ma aan die werk gespring en dit gemaak werk."
Kleinkinders Jan Meyer de Lange; Lienka Meyer de Lange en Maleah Wessels en hul oupa.
Gedenkdiens
Jannie Meyer se familie, talle vriende en kollegas neem môre, Vrydag 14 Oktober om 11:00 van hom afskeid met 'n diens by NG Kerk Blanco.
Jannie en sy geliefde Johlene.
VIDEO: Gedenkdiens van Jan Abraham Meyer op Vrydag 14 Oktober by NG Kerk, Blanco deur Dominee Francois Mulder
Vorige artikel: Legendariese Jannie Meyer sterf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'