GEORGE NUUS - George maak reg vir 'n Paasnaweek vol topklas klubrugbyaksie met twee opwindende toernooie wat van 17 tot 21 April hier plaasvind. Die Ebrahim Patel-gemeenskapbeker maak sy debuut op Outeniquapark, terwyl die George-burgemeesterspaastoernooi rugbyliefhebbers in Rosemoor gaan vermaak.
Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru), beskou die Ebrahim Patel-gemeenskapbeker as 'n gepaste huldeblyk aan 'n legendariese rugbyfiguur.
"As voormalige hoof van SA Rugby het Patel 'n sleutelrol gespeel in die vereniging van die sport tydens 'n transformerende tydperk in ons land se geskiedenis."
"Hierdie toernooi eer nie net sy bydrae nie, maar dien ook as 'n bewys van rugby se vermoë om mense bymekaar te bring," sê Alexander.
Saru-president, Mark Alexander
George as middelpunt
Alexander glo George is die perfekte tuiste vir so 'n toernooi. "Die stad het 'n ryke geskiedenis van suksesvolle toernooie, en dit is fantasties om te sien hoe dit steeds 'n middelpunt vir belangrike rugbybyeenkomste bly. Die gemeenskap se passie en toewyding maak dit 'n ideale plek om Patel se nalatenskap te vier," sê hy.
Ebrahim Patel en dr. Danie Craven.
Om erkenning te gee aan rugby-ikone soos Patel is volgens Alexander van kardinale belang. "Hul visie en toewyding het die sport en sy gemeenskap gevorm. Hierdie toernooi het die potensiaal om uit te groei tot 'n gesogte gebeurtenis wat nie net gemeenskapsontwikkeling bevorder nie, maar ook jong talent inspireer om Patel se waardes van integriteit, deursettingsvermoë en inklusiwiteit voort te dra."
Wie is die agt deelnemers?
Die spanne wat aan die Ebrahim Patel-toernooi gaan deelneem is: Groot-Brakrivier, Heidelberg, Bridgton, Gardens RVK van Gqeberha, St George's RVK van die Strand en Harlequins van Uitenhage, Safcol van Grabouw en Robertson Town. Met soveel talent op die veld en 'n geskiedenis van kompeterende klubrugby, beloof die Ebrahim Patel-gemeenskapsbeker om 'n naweek vol harde duikslae, briljante skoppery en ongekende spanpogings te lewer.
Prysgeld is R100 000 in totaal met R40 000 aan wenner en R20 000 aan die naaswenner met die res van die prysgeld wat onder die ander spanne volgens hulle vertoning verdeel sal word.
Toernooidirekteur, Romano Lekay, het op 'n vraag oor hoe hulle bogenoemde spanne gekies het, gesê dit was uniegebaseer.
"Die kriteria vir die SWD-spanne is nie dorpsgebaseer nie, maar uniegebaseer en is die topdrie spanne volgens die 2024-puntestand gekies."
George-burgemeestersbeker
Rugbyliefhebbers moet ook hul plekke regkry vir die George-burgemeesters-paastoernooi op Rosemoor-sportterrein. Bredni Bestenbier, voorsitter van Progress, sê hulle bied die toernooi in samewerking van Silver Stars en George-munisipaliteit aan. Progress vier ook vanjaar hulle 80ste bestaansjaar en Silver Stars 40 jaar.
Vyf spanne, Progress, Silver Stars, Crusaders, Maori's en Belhar RVK van Kaapstad het reeds hulle deelname bevestig.
Bestenbier sê meer inligting oor die toernooi sal binnekort bekendgemaak word.
Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’