Gallery
GEORGE NUUS - Oom Hekkie Bredenkamp (83) van Pacaltsdorp en sy vrou, Aunt Suzie (79), het verlede Donderdag, 23 Junie, hul 60ste huweliksherdenking tuis saam met familie gevier.
Op 'n vraag oor wat hulle geheim tot 'n lang huwelik is, antwoord Oom Hekkie vinnig, "bly op jou knieë", terwyl Aunt Suzie nog altyd haar pad na sy hart deur haar heerlike kos gemaak het.
Die egpaar het op 23 Junie 1962 in die destydse NG Sendingkerk in Hiberniastraat getrou en daarna met 'n huisbruilof hul eenwording gevier.
Tydens George Herald se besoek aan die egpaar verlede week, vertel hulle dat dit 'n "mooiweersdag" was toe hulle hul beloftes voor God, familie en vriende afgelê het. Hulle was een van drie paartjies wat daardie dag in die kerk deur ds. Patrick Krieling in die huwelik bevestig is.
Hul dogter Rosemary Bredenkamp sê, uit hul familie asook haar ouers se vriendekring, is hulle die enigste wat hierdie mylpaal bereik het.
Hierop voeg Oom Hekkie by dat hy destyds by CP Nel Motors gewerk het waar een van die bestuurders, Herman Meyer, na twee jaar vir hom gevra het hoe dit met die huwelik gaan, waarop hy geantwoord het, baie goed.
"Wel ek weet nou nie waar Herman vandag is nie, maar ek wil net vir hom sê ek het dit gemaak tot by 60 en dit gaan steeds goed."
Uit die egpaar se huwelik is vyf kinders gebore, Raymond, Rosemary, Henriette, Geoffrey en Charmaine. Raymond, hul oudste seun, is 'n paar jaar gelede in 'n tref-en-trap oorlede.
Op hul troudag met hul gevolg en oom Hekkie se broer, Dawid (agter links) en sy pa, Robert Bredenkamp (agter regs). Hul gevolg was, van links: Joseph Jansen, Rhona Coeries, die bruidspaar Hendrik en Susan, Johanna Troskie en Thys Coeries.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'