Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Jonkersberg-man wat van die verkragting en aanranding van sy 37-jarige nooi aangekla word, is gister, Dinsdag 4 November, in die Groot-Brakrivier-landdroshof borgtog geweier.
Mossel Bay Advertiser het in Oktober oor dié voorval berig ná die vrou gedeeltelik verlam aan die linkerkant van haar lyf gelaat is, glo weens die verkragting en aanranding.
Die man staan tans tereg op aanklagte van poging tot moord, verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die ondersoekbeampte in die saak, AO Soretha van Zyl van Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, het gister tydens die borgtogaansoek getuig. Volgens haar het die voorval op Sondag 12 Oktober in die Jonkersberg-omgewing plaasgevind.
Die beskuldigde en dié se ma het ook getuig. Hy het gesê hy woon al vir agt jaar in Jonkersberg, en ten tye van die voorval het hy saam met die slagoffer en een van sy kinders hier gewoon. Hy woon al sy lewe lank in die Groot-Brak-omgewing. Indien die hof borg sou toestaan, het hy gesê kan hy by sy ma in George gaan woon.
Gedurende sy getuienis het sy regsverteenwoordiger agt vorige skuldigbevindinge gelys, wat hy bevestig het. Dit was tussen 2006 en 2023. Drie daarvan was vir aanranding, twee vir lasbriewe ná hy versuim het om in die hof te verskyn, een vir die besit van dwelms, een vir diefstal en een vir opsetlike beskadiging van eiendom.
Hy het ook getuig dat die redes vir sy vrylating insluit dat hy na sy oudste dogter wil omsien en teruggaan na sy werk, en dat hy ook ’n siektetoestand het waarvoor hy behandeling kry. Watter siekte dit mag wees het nie deel gevorm van sy getuienis nie.
Die staat het tydens sy ondervraging van die beskuldigde dit aan hom gestel dat hy ’n gewelddadige persoon is, sy vorige skuldigbevindinge in ag genome. “Ek sal dit nie so stel nie. Ek is gewoonlik nie gewelddadig nie,” het hy gesê.
Hy het ook gesê hy sal onskuldig pleit op die aanklagte teen hom, dat hy die slagoffer slegs verbaal mishandel het, en dat hy haar nie sal nader of intimideer sou hy borg kry nie.
Van Zyl het na aanleiding van die verklaring wat sy by die slagoffer afgeneem het, getuig dat die beskuldigde ná daar glo op 12 Oktober ’n onderonsie tussen hom en die slagoffer ontstaan het, die slagoffer na bewering met water natgegooi het en met kragkabels geskok het, sy penis sonder haar toestemming in haar mond geplaas het, haar met ’n besem aangerand het, en volgens die slagoffer die indruk geskep dat hy haar met ’n tou, wat later op die toneel gevind is, wou ophang.
Verder, luidens Van Zyl se getuienis, het die slagoffer se ma haar Dinsdag 14 Oktober by haar woning, waarvan die deur glo van buite af gesluit was - só dat niemand van binne af sou kon uitkom nie - gaan soek.
Ná sy toegang verkry het, het sy die slagoffer na bewering bedlêend aangetref. Die slagoffer het glo vir haar gesê sy is aangerand, maar dat die beskuldigde haar hospitaal toe sou neem.
Die ma het haar egter die volgende dag in dieselfde toestand aangetref. Sy het toe ’n ambulans ontbied - nooddienspersoneel moes haar glo uit die huis uit dra.
Die slagoffer het glo gesê sy vrees vir haar veiligheid sou die beskuldigde borg kry.
Ná die onderskeie getuienisse voltooi is, het die landdros gesê die beweringe in die saak is van ’n uiters ernstige aard en die saak sal waarskynlik na die streekhof verwys word. Sy het gesê geslagsgebaseerde geweld is ’n ernstige probleem in die land, en dat 99% van die sake voor dié hof van gesinsgeweld is.
Sy het egter ook gesê dié is ’n borghof en nie ’n verhoorhof nie.
Die landdros het gesê die hof is van mening dat die beskuldigde ’n gevaar vir die slagoffer inhou sou hy vrygelaat word, en dat dit waarskynlik is dat hy haar sal probeer intimideer. Haar bevinding was dat borgtog nie in die belang van geregtigheid sal wees nie, en het dus sy aansoek afgekeur.
Die saak is vir verdere ondersoek na 27 Januarie uitgestel.
*Omdat een van die aanklagte van ’n seksuele aard is, mag die verdagte se identiteit nie bekendgemaak word tot hy pleit nie.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’