GEORGE NUUS - Die toestand waarin 'n klompie gesinne van Golden Valley woon het twee vroue wat in die omgewing woon so aangegryp, hulle het George Herald gevra om besoek af te lê.
Die gesinne woon in plakkershutte op gedienste erwe teen 'n skuinste in Mensvaringstraat, Blanco.
Hulle het egter baie probleme met waterdreinering, beskadiging van toilette, onwettige vullishope wat agter hulle wonings groei en lekkende krane en toilette. Bome wat naby hulle hutte is wek ook kommer wanneer die wind erg waai.
Die twee vroue wat George Herald genader het om ondersoek in te stel, beweeg weekliks met hul perde deur die serwituut agter die gesinne se wonings, en het bewus geraak van die inwoners se pleidooi om hulp.
Met reënweer is dit 'n modderige storie rondom die wonings. Die een inwoner het al 'n sloot vir dreinering langs haar hut gegrawe.
Gedienste erwe
Terugvoer van die munisipale woord-voerder, Chantèl Edwards, dui aan dat dié area deel vorm van die gesubsidieerde behuisingsprojek in Golden Valley wat uit 136 huise en 15 gedienste erwe bestaan.
"Hierdie gedienste erwe is toegeken aan begunstigdes wat nie vir 'n topstruktuur gekwalifiseer het nie as gevolg van hul inkomste wat die R3 500-drempel oorskry het," sê Edwards.
"Van die 15 gedienste erwe is 12 beset, en die oorblywende drie erwe bly onbewoon ten spyte van skriftelike kennisgewings wat in Junie 2024 aan die geregistreerde begunstigdes gestuur is om hulle te herinner om hul intrek te neem.
"Alle erwe is volledig gediens en is toegerus met spoeltoilette. Probleme met lekkende en beskadigde toilette is egter onlangs aangemeld en is na die betrokke munisipale afdeling geëskaleer, wat bevestig het dat herstelwerk uitgevoer sal word. Hulle sal ook alle toilette in die gebied nagaan om moontlike bykomende lekkasies te ondersoek.
"Verslae van onwettige storting en gevaarlike oorhangende bome is aan Gemeenskapsdienste gestuur, wat die saak ondersoek."
Volgens die munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards, is hierdie modderige area aangrensend aan die onwettige vullishoop, 'n gedienste erf wat tans oop staan.
'n Beskadigde toilet (bo) en druppende kraan (onder).
Eldine Mtuze (links) en Elrinea Draai en haar dogtertjie, Reané (3), by Mtuze se woning wat langs 'n oop gedienste erf geleë is. Mtuze het 'n sloot reg rondom haar huis gegrawe om water te dreineer. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’