GEORGE NUUS - Ons twaalfde amptelike landstaal, gebaretaal, is tydens 'n werksessie vir die jeug opnuut onder die kollig geplaas.
Hierdie geleentheid het verlede Saterdag, 11 April, by die George-stadsaal plaasgevind en is aangebied deur die ATKV-tak Sommer Net Ons.
Onder die tema, Hande praat Afrikaans, het leerders van Hoërskool George, Parkdene Sekondêr en Pacaltsdorp Sekondêr al te heerlik met hul hande, op die maat van bekende musiek saamgepraat.
Leana Janse van Rensburg, 'n opvoeder by Carpe Diem Skool, het vanaf die verhoog die leiding geneem en leerders aan verskeie handgebare blootgestel.
Hulle kon dit namaak met die woorde van Katy Perry se Roar in die agtergrond.
Die program het 'n ryk verskeidenheid items ingesluit, waaronder sang, dans, persoonlike verhale en motiveringspraatjies.
Tolk Suzan Munro
Eerste aan die woord was George-speaker Sean Snyman, wat oor sy uitdagings as iemand wat met 'n gestremdheid leef gesels het. Hy het met sy gehoor gedeel dat dit absoluut in jou eie hande is wat jy met jou lewe maak, en dat jy self vir jou eie geluk verantwoordelik is.
George-speaker Sean Snyman
Die taalonderwyser en digter Sumayyah Petersen het in haar praatjie die belangrikheid van taal as verbindingsmiddel beklemtoon.
Digter Sumayyah Petersen.
Musikale bydraes deur Xavier Veale en 'n energieke dansitem deur die Bradwell Dance Collective het die program verder verryk. Tolke Suzan Munro en Mia Lindvelt het 'n belangrike rol gespeel om die verrigtinge toeganklik te maak.
Gr. 10-leerders van Pacaltsdorp Sekondêr: van links is Grace Potgieter, Carron Claassen en Christall Potts.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’