Gallery Update
GEORGE NUUS - Erfenisdag is Saterdag, 24 September op luisterryke wyse op verskeie plekke in George gevier.
Van die eerste aktiwiteite het reeds Vrydag begin met die Erfenisfees/Heritage Festival by die George skougronde. Dit is Saterdag voortgesit en is Sondag afgesluit met 'n Gospel Sunday.
Die organiseerders, Max Modise en Corne Botha het Saterdagmiddag hul tevredenheid met die verloop van die fees uitgespreek. Dit was die eerste keer dat die fees aangebied is.
Botha het Dinsdag gesê hulle is baie positief dat dit weer aanstaande jaar aangebied gaan word. "Ons gaan binnekort met borge gesels oor moontlike betrokkenheid aanstaande jaar.
"Dis duidelik daar is behoefte vir so 'n fees. In die algemeen is ons tevrede met die getalle. Ons sou graag meer besoekers wou gehad het, maar mens moet in gedagte hou dat dit eerste keer is dat die fees aangebied is. "
Hy het benadruk dat die organiseerders geleer het aan die aanbied van die pas afgelope fees.
By die ou historiese tolhuis in die Montagupas was daar al vroeg Saterdagoggend bedrywigheid. 'n Geesdriftige groep vrywilligers het reeds van vroeg met verfkwasse en emmertjies kalk die Cradockroete aangedurf.Die roete is reeds in 1812 gebou en die groep vrywilligers het Saterdag opnuut sowat 15 van die bakens op die roete gaan verf.
As deel van die Erfenisdagvieringe het die Donkiekar-boereorkes van Hoekwil later opgetree. Besoekers kon heerlik na hul musiek luister teen die die agtergrond van die statige Outeniquaberge.
Patrick Botto van die Vereniging van Mond en Voetskilders het gewys dat niks in sy pad staan en het met 'n verfkwas in sy mond aan 'n skildery gewerk. Daar was ook 'n uitstalling van veteraan motors.
FOTOGALERY: Erfenisfees/Heritage Festival by die George skougronde en Ou Tolhuis
Gerda Stols van die Vriende van die Tolhuis het na Dinsdag gesê alles het goed afgeloop. "Daar was was bietjie minder besoekers as in die verlede, maar ons is steeds dankbaar vir almal wat opgedaag het. Dit is duidelik dat mense honger is om kultuur te beleef."
Hildred Basset van die Vryburgers het gesê die organisasie se Familie Skiet- en Braaidag was 'n groot sukses. Hulle is tevrede met die besoekergetalle wat Saterdag opgedaag het. Geld wat ingesamel is gaan aangewend word vir die Kos vir Kindersskool-projek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'