GEORGE NUUS - Ellen Godfrey van Pacaltsdorp het gewys om 60 te word, hoef glad nie vervelig te wees nie. Sy het verlede Donderdag, 31 Julie, haar mylpaal-verjaarsdag gevier met ’n deftige ete saam met familie en vriende, en toe het die regte partytjie eers begin.
Teen die naweek het die feesvieringe na Mosselbaai verskuif waar haar familie van so ver as Duitsland, bymekaar gekom het om verder te kuier en die lewe te vier. Saterdag was daar behoorlik pret.
Gaste moes per tema aantrek en daar was van alles: kleurvolle hippies, vrolike trompoppies en dan die gunstelinge van die dag, Ellen se seuns, skoondogter en hul niggie, wat opgedaag het as 60 Sixty-afleweraars, kompleet met pakkies en ’n “diens met ’n glimlag”.
Elke groep het ook ’n kort opvoering gelewer, van dansies en drama tot skaterlag-vertonings. Dit was lekker, dit was lawaaierig, en dit was vol liefde, presies soos Ellen dit wou hê.
FOTOGALERY - Ellen Godfrey van Pacaltsdorp vier mylpaal-verjaarsdag
En net toe sy dink die verrassings is klaar, het Sondag nog een opgeduik. ’n Verjaarsdaggeskenk met ’n adrenalienskoppie, glykabel (Zipline) by Die Punt in Mosselbaai. Ellen het dit soos ’n pro aangepak, met ’n glimlag, wind in die hare en stewige skoene wat aan haar voete gebly het.
Ellen Godfrey en die mans in haar lewe, links haar seuns, Alvin en Llwellyn, en haar man, Wilfred.
Die verjaarsdagvieringe in Mosselbaai.
Dit was ’n naweek vol lag, liefde en herinneringe wat vir altyd gaan hou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’