GEORGE NUUS - 'n Voormalige burgemeester van George, Melford Notshokovu (73), het onverwags aan 'n hartaanval gesterf en nog 'n voormalige burgemeester, Marius Swart (79), is in 'n kritieke toestand in die hospitaal nadat hy Covid-19 opgedoen het.
Beide het diep spore tydens hul termyne in die politiek getrap.
Melford Notshokovu
Barbara Notshokovu het Dinsdag aan George Herald gesê haar pa het in 1995 adjunk-burgemeester van George geword en in 1997 burgemeester.
Hy was 'n ANC-lid. Hy word oorleef deur sy vrou, Cornelia, agt kinders en 'n aantal kleinkinders.
Sy het vertel dat haar pa verlede Donderdag, 7 Januarie, dokter toe geneem is vir maagpyn. Vrydag is hy weer na 'n dokter geneem en het medikasie ontvang. Later die dag is hy per ambulans na die George-hospitaal geneem.
Saterdagmiddag het die hospitaal laat weet dat hy aan 'n hartaanval gesterf het. Sy het benadruk dat dit nie Covid-19 was nie.
Die begrafnis vind Vrydag plaas.
Barbara het haar pa as hardwerkend en intelligent beskryf. Hy wou altyd die gemeenskap help en selfs na sy uittrede het mense steeds by hom om hulp kom aanklop. Hy was ook baie aktief betrokke by die Metodistekerk.
Marius Swart
Marius Swart
Sannett Swart, Marius se vrou, het gesê hy is op Vrydag 8 Januarie in die hospitaal opgeneem. Hy mag nie besoekers ontvang nie. Hy was nie voor die tyd siek nie en het 'n paar dae voor die tyd net 'n ligte verkoue ontwikkel.
Volgens haar het die familie opnuut besef hoe ernstig Covid-19 is en mense aangeraai om versigtig te wees.
Flip de Swart, oud-kollega van Swart, het gesê Swart het op 5 Desember 2000 George se eerste demokraties verkose burgemeester geword. Hy is later parlement toe onder die DA-vaandel. Volgens hom het Swart as burgemeester uitgereik na alle mense van George.
Jaco Londt, DA-voorsitter in die Wes-Kaap, het gesê Swart het as politieke leier 'n integrale rol gespeel om die DA in die Wes-Kaap te bou van opposisieparty tot die regerende party.
Swart was ook vir 'n tydperk DA-kiesadelingshoof van George en 'n federale ondervoorsitter van die DA.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'