GEORGE NUUS - Harde woorde het vanmiddag, Vrydag 18 Junie, tussen verteenwoordigers van die EFF en bestuurslede van Oakhurst DC Insurance in Yorkstreet geval.
EFF-lede het vroegmiddag by die gebou opgedaag en aangedring dat die gebou dadelik gesluit moet word.
Hulle voer aan dat minstens vyf personeellede positief getoets is vir die koronavirus. Hulle het geëis dat die gebou dadelik gesluit word en personeel huistoe gestuur moet word omdat mense se lewens in gevaar is.
Volgens die EFF-lede kry hulle die inligting van werknemers wat nie bereid is om op rekord te praat uit vrees vir viktimisasie.
In een stadium het die polisie opgedaag en gemoedere gekalmeer.
Die polisie het aan die EFF-lede verduidelik as hulle ongelukkig is moet hulle ‘n klag indien. Dis nie hulle (EFF) se taak om die wet af te dwing nie. Die EFF se verweer was dat hy ‘n oorsigrol het en dit bloot nakom.
Mbulelo Magwala, streeksekretaris van die EFF, het gesê hulle is baie ongelukkig. Hy het gesê as die situasie nie bevredigend opgelos word nie, sal hulle Maandag terugkeer.
Rick Claughton, groepsregsverteenwoordiger van die maatskappy, het aan George Herald gesê sover hulle kennis strek is daar nou vyf positiewe gevalle. Die eerste een is Maandag geïdentifiseer. Daar is toe werk van gemaak en die geaffekteerde personeellede is huis toe gestuur.
"Daar is opgetree in terme van die regulasies en al die protokolle is gevolg. Drie is later geïdentifiseer en die vyfde eers baie laat Vrydagmiddag, na gesprekke met die EFF."
Volgens Claughton is die maatskappy voortdurend besig met risiko-analise en volg hulle die regulasies en meer.
“Personeel is ons besigheid en ons deel die kommer van die EFF oor die infeksiekoers.”
Hy het benadruk dit is nie ‘n geveg met die EFF: “Ons is almal saam in die geveg teen Covid-19, en nou dat ons almal terugkeer werk toe onder vlak 3, sal alle besighede nou onder druk geplaas word om die infeksiekoers te veg.”
Volgens hom sal die maatskappy voortgaan om positief saam met alle owerhede betrokke te bly.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'