GEORGE NUUS - Pacaltsdorp het op 27 en 28 September geskiedenis gemaak toe die gemeenskap die eerste Cansa Relay for Life-geleentheid hier aangebied het. Die bekende atleet, Elroy Gelant, was daar om die vlam van hoop in die openingsoptog te dra.
Die 24 uur-program was 'n fees van hoop, geloof en liefde, en honderde deelnemers en ondersteuners het saamgetrek.
Die aand is feestelik geopen met 'n optog waarin die internasionale atleet, Elroy Gelant, die vlam van hoop gedra het. Hy is begelei deur die Tribe X MCC- en CC Riders MCC-motorfietsryers en die St. Albans-orkes. By sy aankoms op die sportveld het plaaslike kankeroorwinnaars en versorgers hom ingewag en saam met hom geloop om die vlam aan die Pacaltsdorp Kansa-ondersteuningsgroep te oorhandig. Hierdie vlam het die hele nag gebrand as simbool van volharding.
Kunstenaars en vertonings
'n Propvol vermaakprogram het gesorg vir geesdrif en samehorigheid. Plaaslike talent soos Miche Eksteen, Nicole Jansen, Carl Brink, John Haas, die St. Mary's-trompoppies, Rosemoor Primêr se dansgroep, asook geestelike dansers van die VGK en AGS Pacaltsdorp, het die skares vermaak.
Simboliese oomblikke
Teen 20:00 het die kankeroorwinnaars die eerste rondte om die baan gestap onder toejuiging van die res van die deelnemers. Melissa Alberts en die speaker van die George-munisipaliteit het boodskappe van hoop oorgedra.
Die emosionele luminaria-seremonie was een van die hoogtepunte. Kerse is in die vorm van 'n kruis aangesteek en later in luminaria-sakkies geplaas om geliefdes wat kanker beveg het of aan die siekte beswyk het, te eer. 'n Gedekte tafel vir een langs die verhoog het verder herinner aan diegene wat nie meer saam kon wees nie.
Die oorwinnaars is ook spesiaal bederf met 'n gesellige saamkuier in die saal, waar tee en eetgoed vir hulle voorgesit is.
FOTOGALERY: Cansa Relay for Life in Pacaltsdorp 'n fees van hoop.
Kankeroorwinnaars is met 'n koek en tee bederf. Hier is van die gaste saam met John Haas, die programdirekteur.
Geloofsbydraes en erkenning
Die program is geopen deur pastoor Allen Spies (AGS Pacaltsdorp) en vader Arthur Stephens, wat geestelike boodskappe van hoop en vertroosting gedeel het.
Aan die einde van die program is trofeë oorhandig aan spanne wat uitgestaan het:
Meeste inskrywings: Evergreens Supporters Group
Beste spangees: Pink Toffies
Mees deelnemende skool: Rosemoor Primêr se dansgroep
Best Mission-trofee: Golden Jewels Seniorsklub
Die plaaslike gemeenskap het sterk betrokke geraak met kos- en handwerkstalletjies, en talle instansies en individue het bygedra tot die sukses van die aand.
Rosemoor Primêr se dansgroep in aksie.
Onder die borge en ondersteuners was onder meer die Tuinroete-distriksmunisi-paliteit, Seal Security, ByGrace Medics, Loerie-bakkery, Eden FM, George Herald, en vele meer.
Die Pacaltsdorp Kansa-ondersteuningsgroep het elke deelnemer, borg en helper bedank. Programdirekteur John Haas is spesiaal geloof vir die gladde verloop van die aand.
Met 'n vonkelende eerste sukses agter die rug, sien Pacaltsdorp nou uit na die volgende Relay For Life in 2026.
Meer besonderhede sal binnekort aangekondig word.
Die Pienk Toffies het die trofee vir die beste spangees verower.
Families het saam die deurnaguitdaging aangepak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’