GEORGE NUUS - 'n Werknemer (28) van Precast Panel Products (PPP) is dood en nog een (48) is beseer toe hulle Saterdagmiddag, 25 Januarie, in 'n motorongeluk op die N2 naby die Pacaltsdorp-afrit, betrokke was.
Die bestuurder van die wit Isuzu-bakkie het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor. Hy is op die toneel oorlede. Hulle het plaveistene vervoer en was onderweg na Glentana toe die ongeluk plaasgevind het.
Geen ander voertuie was betrokke nie.
Die passasier is met beserings na die hospitaal geneem. Albei moes met meganiese kake uit die voertuig verwyder word.
Volgens inligting het die bakkie gerol en op die eiland tussen die verskillende bane op die N2 te lande gekom.
Die identiteit van die oorlede word op hierdie stadium weerhou op versoek van sy familie. Hulle is genader vir kommentaar, maar wil in hierdie stadium nie enigiets sê nie.
Charl Marais, die besturende direkteur van PPP, sê dit was vir hom baie swaar om te sien hoe twee van sy werknemers uit die voertuig gehaal moes word.
"As 'n klein besigheid in George is ons werknemers soos familie en ons gee om vir mekaar," sê Marais.
Hy sê die oorledene was 'n baie ervare drywer met 'n kode 14-lisensie. "Ons sal hom onthou as iemand wat altyd gewillig was om die ekstra myl te loop, wat altyd vriendelik was en advies en raad aan sy medewerkers gegee het, hy sal beslis gemis word."
Volgens Marais was die passasier nie baie ernstig beseer nie. "Te danke aan ER24 en Mediclinic George, het hy die regte behandeling gekry en is binne 48 uur ontslaan."
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie.
N2 "gevaarlik" as dit reën
Op Maandagoggend, 27 Januarie, was 'n vrou betrokke by 'n ongeluk op die N2 naby die Thembalethu-brug nadat sy vermoedelik beheer oor haar Toyota-bakkie verloor het. Sy was onderweg vanaf Glenwood na Thembalethu toe die voertuig glo op die nat padoppervlak gegly het en uiteindelik op die metaalreling aan die oorkant van die N2 tot stilstand gekom het. "Ek is oukei. Ek was op pad terug huis toe van Glenwood House af.
"Ek is nog steeds in skok, want soos jy weet, is daardie pad glad wanneer dit reën," het die bestuurder van die voertuig ná die ongeluk gesê.
"Ek het gegly en beheer verloor. Toe raak alles donker en toe ek weer sien is ek aan die verkeerde kant van die pad."
Gelukkig het sy geen ernstige beserings opgedoen nie, en geen ander voertuie was by die ongeluk betrokke nie. Talle lesers het ná 'n plasing oor die ongeluk op George Herald se Facebook-blad, kommentaar gelewer oor hoe gevaarlik dié deel van die pad kan wees wanneer dit nat is.
'n Media-navraag is na Sanral gestuur vir kommentaar. Indien enige terugvoer ontvang word, sal dit by die berig geplaas word.
Die Toyota-bakkie het Maandag bo-op die reling tot stilstand gekom.
Die bakkie het plaveistene vervoer.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’