TUINROETE NUUS - Pogings word aangewend om die spanning te ontlont oor die grondeise van twee eiendomme in Dysselsdorp (Erf 2 en 975) wat aan die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM) behoort.
Dit kom nadat inwoners van Donkerhoek Maandag 26 Februarie met 'n protesaksie begin het na TDM 'n uitsettingsbevel op tientalle gesinne van die informele nedersetting bedien het. Lees meer hieroor in môre se uitgawe van die Oudtshoorn Courant, Donker dae vir Donkerhoek.
Die aangeleentheid het vandag, 28 Februarie, weer ter sprake gekom tydens 'n buitengewone raadsvergadering van die munisipaliteit.
In 'n verklaring vandag het die distriksmunisipaliteit gesê hulle bly toegewyd om 'n regverdige en menslike proses te volg om die situasie te beredder. Die TDM onderneem om verskeie belanghebbendes te betrek, om sodoende 'n regverdige oplossing vir die situasie te vind.
Agtergrond
Luidens die persverklaring die Gona-Hesse! Khwe Koninklike Koninkryk, 'n nie-winsgewende entiteit, die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM) in 2021 genader met 'n voorstel om grond binne die distrik se jurisdiksie te huur.
Hulle aanvanklike belangstelling was in Kleinkrantz, 'n klein gemeenskap tussen Wildernis en Sedgefield, maar was egter ingelig dat Kleinkrantz nie beskikbaar is nie. Alternatiewe grond binne die munisipaliteit se jurisdiksie wat wel beskikbaar was vir huur, Erf 2 in Dysselsdorp, is aanbeveel.
Erf 2 is ongeveer 100 km vanaf Kleinkrantz, waar die Gona-Hesse! Khwe Koninklike Koninkryk aanvanklik 'n eiendom wou huur.
"Later het die Gona-Hesse! Khwe besluit om 'n huurkontrak vir Erf 2, in Dysselsdorp na te streef, spesifiek die gebied wat plaaslik bekendstaan as 'Bloupunt'. Hulle het aanvanklik 'n deposito betaal, maar het versuim om hul maandelikse huurverpligtinge na te kom soos bepaal in die huurooreenkoms.
"Teen 30 September 2022 het hulle agterstallige huurgeld R60 000 beloop. Ten spyte van herhaalde versoeke om betaling, het die Gona-Hesse! Khwe versuim om hul skuld te vereffen. Die TDM het toe maatreëls geïmplementeer in ooreenstemming met sy kredietbeheerbeleid om die verskuldigde (uitstaande) bedrae terug te eis.
"Op 2 Februarie het die TDM 'n kennisgewing ingedien ingevolge artikel 4(2) van die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsettings en Onwettige Besetting van Grond, No 19 van 1998 (die PIE Wet), teen die Gona-Hesse! Khwe.
"Die groep het, ten spyte van die nalating van hul huurverpligtinge, omstrede onwettige titelaktes uitgereik, waardeur hulle valse eienaarskap oor die grond beweer het, op grond van hul beweerde koninklike status. Hierdie optrede was teenstrydig met die amptelike aktes se rekords.
"Gevolglik het die TDM geen ander opsie gehad as om regstappe te neem om sodoende sy eiendomsregte te beskerm. Die een uitsettingskennisgewing het betrekking op Erf 2.
Die ander uitsetting is vir die onwettige besetting van Erf 975, maar die TDM-raad het intussen besluit om hierdie uitsettingskennisgewing terug te trek.
Die kontraktuele oortreding het spesifiek betrekking op Erf 2 en word geassosieer met die Gona-Hesse! Khwe groep.
'n Administratiewe en politieke afvaardiging sou vandag na Oudtshoorn reis om met die gemeenskapsverteenwoordigers te praat.
Met die oog op die toekoms is die TDM-raad en die administrasie besig om te beraadslaag oor die situasie met betrekking tot Erf 975 met die Oudtshoorn-munisipaliteit, met die doel om 'n oplossing te bereik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’