GEORGE - "Die mense was gestrooi oor die pad."
Só beskryf ooggetuies Maandag se gru-kettingbotsing waarin drie konstruksiewerkers dood is. Drie voertuie, waaronder ‘n ligte vragmotor en bakkie, was betrokke by die ongeluk.
Volgens kapt. Bernadine Steyn, die polisiewoordvoerder het die ongeluk omstreeks 17:30 op die brug in Sankraalweg naby die oprit vanaf die N2-snelweg plaasgevind en ondersoek hulle ‘n saak van strafbare manslag.
Na wat verneem word, het ‘n wit Hyundai-ligtevragmotor teen die oprit van agter af teen ‘n wit Ford Ranger-bakkie, wat by die stopstraat gestaan het, gebots.
Die bakkie is na bewering so hard getref dat dit ‘n verbygaande geel Toyota Venture getref het. Die impak was so geweldig dat die Venture deur die relings gebars en langs die draadheining van die snelweg te lande gekom het.
Een man (27) wat agter op die vragmotor was, is op die toneel dood.
Twee mans, onderskeidelik 19 en 62 jaar, wat op die bakkie was, het later in die hospitaal beswyk.
Die drie persone in die Venture, die oorblywende drie in die bakkie en 10 in op die vragmotor is almal beseer en na die hospitaal geneem.
Nog botsings
‘n Europese egpaar is ook beseer in ‘n botsing Saterdag omstreeks 19:20 naby die Wilderness Beach Hotel.
‘n Silwer Kia-motor het reg van voor met mnr. German en mev. Katy Schütt se gehuurde Hyundai gebots. Die Schütt-egpaar was onderweg in die rigting van George en die Kia in die teenoorgestelde rigting.
Die polisie ondersoek ‘n saak van roekeloos en nalatige bestuur.
In Wildernis het nog ‘n ongeluk die lewe van ‘n motorfietsryer geëis.
Kapt. Zelda Muller, die polisiewoordvoerder van die George-polisie sê, die onbekende man het op die nat pad beheer oor die motorfiets verloor, gegly en teen ‘n reling gebots. Die man het later in die George-hospitaal gesterf.
Mnr. Daniël Beeka, direkteur van gemeenskapveiligheid, het gister gesê hy betreur al die voorvalle.
Ná ‘n vergadering gisteroggend tussen Beeka en sy bestuur is die departement besig met ‘n strategie om probleme in Sandkraalweg, wat hulle as ‘n hoë-risiko-area geïdentifiseer het, aan te spreek.
Wetstoepassing verskerp
Intussen sal wetstoepas-sing op dié pad, wat veral deur minibustaxi’s gebruik word, verskerp word.
Nog ‘n leemte waarna die departement gaan kyk, is die wetgewing rondom die vervoer van werkers agterop oop bakkies en vragmotors deur kontrakteurs.
Artikel: Lizette da Silva