Video
GEORGE NUUS & VIDEO - ‘n Leerder van Laerskool George-Suid Talia van Rensburg (9), se toewyding met die insameling van plastiekdoppies en broodknippies vir herwinning inspireer mense oral waar sy gaan.
'Doppies', soos sy nou al grappenderwys by die skool genoem word, het sedert November verlede jaar meer as een en 'n half ton se doppies en broodknippies ingesamel. Dit is alles aan die herwinningsonderneming, Interwaste gelewer wat 'n rolstoel skenk vir elke 450 kg doppies of vir elke 50 kg broodknippies. Die rolstoel gaan aan 'n persoon of organisasie van die doppiesinsamelaar se keuse.
Talia het genoeg ingesamel om vier rolstoele uit te deel. Die eerste gaan aan Riëtte Rademeyer, 'n lid van die George Vroue-landbouvereniging (VLV), wat die projek verlede jaar begin het. Sy het reeds 'n ontvanger vir die stoel geïdentifiseer, maar dit moet nog oorhandig word.
Die tweede rolstoel het Talia saam met haar ma Debby en ouma Marthea de Vries verlede week by die JJ Watson-ouetehuis afgelewer. Om dankie te sê, het die ouetehuis Talia verras met 'n pragtige handgebreide handsakkie en beenkombers wat deur een van die inwoners gemaak is.
Die orige twee rolstoele sal binnekort aan persone wat reeds geïdentifiseer is, oorhandig word, maar die papierwerk moet nog afgehandel word.
Talia kry uitstekende ondersteuning van ander leerders in haar skool wat daagliks sakkies vol doppies en broodknippies aandra. Verder het 'n Carpe Diem-leerder wat van die projek te hore gekom het, Francois Stassen saam met sy oupa van Beaufort-Wes, Theo Munro bykans 300 kg se doppies en knippies vir Talia aangery van daar af. Mense gooi selfs sakkies met doppies en knippies oor die muur by die Van Rensburgs se huis.
Kyk 'n video hieronder.
Talia sortee knippies en dopies, 'n taak wat daagliks aandag verg.
Die George Herald het verlede jaar oor die projek berig wat Riëtte aanvanklik net onder VLV-lede bekendgestel het. Talia het haar gekontak na aanleiding van 'n nota wat sy op die George-biblioteek se kennisgewingbord geplak het met 'n versoek vir gebruikte plastiekdoppies vir herwinning. Vandaar het die projek onder die jong leerder se entoesiasme onvoorsiens uitgebrei.
Debby sê sy is trots op haar dogter wat daagliks nadat sy haar huiswerk gedoen het, en tussen verskeie buitemuurse aktiwiteite deur, nog doppies en knippies sorteer en was. "Dis 'n groot werk. Gelukkig kry Talia steeds baie hulp en raad by tannie Riëtte wat nog sakke doppies bymekaarmaak, en Francois en sy oupa. Daar is regtig ongelooflike ondersteuning vir die projek en ons is so dankbaar."
Talia sê sy is opgewonde oor wat die projek vir ander en vir die omgewing beteken. "Hopelik kan ek sommer nog baie mense op hierdie manier help."
Die bedrywige meisiekind neem deel aan netbal, stapresies, redenaarskompetisies en eisteddfods (waar sy voordrag doen), en sy het onlangs vir 'n spelkompetisie ingeskryf. Sy het ook nog tyd vir moderne dans, blokfluitspeel en perdry vir ontspanning.
Mense wat haar projek wil ondersteun, kan vir Debby bel by 073 543 0865.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'