GEORGE NUUS - As mense ooit getwyfel het of iemand 'n dubbelganger het, moes hulle verlede week 'n draai by George-hospitaal gemaak het. Daar het Evelyn Schaap en Christal Dixon se paaie vir die eerste keer gekruis.
Hulle lyk soos byna identiese susters, maar is nie familie nie.
Evelyn, wat al meer as 30 jaar by die hospitaal werk, is gebore in Mosselbaai en woon in George.
Op Saterdag 25 Junie het sy tuis 'n oproep van 'n kollega ontvang. Die het vir haar vertel dat daar 'n besoeker by die hospitaal is wat nes sy lyk. "Ek was verras. My suster wat na my getrek het, is al oorlede. Ek het vir my man Harry en kinders vertel en ons het daaroor gelag. Harry het gesê dis seker my ewebeeld."
Evelyn het toe half vergeet daarvan en is Maandag werk toe. Net na 09:00 het een van haar kollegas gesê daar is 'n vrou by 'n familielid in die kindersaal wat sy kon wees. "Ek het my eers nie daaraan gesteur nie."
Teen Dinsdag het haar nuuskierigheid die oorhand gekry, maar Christal was nie daar nie.
Woensdag het een van die dokters ook gepraat oor haar dubbelganger. Van die personeel het haar toe gaan haal. "Ek het my uit my seile geskrik. Christal het begin lag en ek was geskok. Ons het begin gesels. Dit blyk toe sy kom oorspronklik van Pacaltsdorp. Dit was die eerste keer dat ons mekaar gesien het."
Daar is ook ander interessanthede. Hul kleinkinders lyk na mekaar en hulle hou albei van mooi aantrek. Hulle is ook lief vir sing.
"Nou glo ek daar is vir elke persoon iemand in die wêreld wat net soos jy lyk," het sy gesê. "Ek het 'n splinternuwe suster gekry."
Christal het vertel toe sy Maandag by die hospitaal instap om vir haar kleindogter te gaan kuier, het sy gesien almal kyk vir haar. "Ek kon nie verstaan hoekom nie." In die saal wou 'n vrou weet of sy vir Evelyn ken.
Toe hulle Woensdag ontmoet was beide verstom.
"Ons het albei net ons monde vasgehou. Die konneksie was onmiddellik daar. Dit voel of ons mekaar al jare ken. Dis die heel eerste keer dat so iets met my gebeur. Nou glo ek ook elke mens het 'n dubbelganger," vertel Christal.
Die twee, wie se ouderdomme net 'n paar jaar verskil, gaan kontak hou en beplan om nog lekker te kuier.
Evelyn Schaap (links) en Christal Dixon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'