GEORGE NUUS - Twee weke van opwindende, opvoedkundige en kulturele pret lê voor vir 'n groep Belgiese uitruilstudente wat hierdie naweek in George aankom.
Hierdie jaar se groep van 12 arriveer op Sondag 4 Februarie. Maandagoggend gaan hulle vir die eerste keer in skooluniforms skool bywoon.
Hulle vertrek weer op Vrydag 16 Februarie terug na Europa.
Die Kwaggas wat verlede jaar in Oktober hul Belgiese maats in hul tuisdorp, Waregem, besoek het, praat met lof oor hul besoek.
Hoërskool Outeniqua-leerder, Mariné Kruger sê: "Om België te besoek, was werklik 'n lewensveranderende ervaring.
"Ek het besef hoe klein my wêreld is en hoe min ek van ander kulture weet. Boonop het ek lewenslange vriende gemaak."
Nog 'n Kwagga, Willem Wannenburg se woorde: "België was 'n onbeskryflike ervaring wat my hele lewe verander het. Om dit eenvoudig te stel: ek wou nie terugkom nie."
"Die twee weke was een van die beste ervarings in my lewe. Ons het soveel meer van 'n ander kultuur geleer en lewenslange vriendskappe gebou," sê Alouise Campher.
In September 2012 het die eerste groep van tien Kwaggas en twee opvoeders België besoek.
Die groep leerders wat George verlede jaar besoek het, was so aangeraak deur hulle besoeke aan NG Kerk in Thembalethu, Life Community Services en Carpe Diem-skool dat hulle aan elk van hierdie instansies ‘n donasie van 1 500 euro gemaak het. Ongeveer R24 000 elk. Hier word die seremoniële tjek in België aan die besoekende Kwaggas oorhandig.
Onze-Lieve-Vrouw Hemelvaart Instituut in Waregem in Wes-Vlaandere is die susterskool.
Sedertdien besoek die Belge Outeniqua in Februarie van elke jaar en die Kwagga leerders hulle in September.
Tydens die besoek woon leerders klasse en skoolbedrywighede van die gasheerskool by. Hulle word op uitstappies geneem na historiese plekke en toeriste-aantreklikhede.
Van links is Charné van der Westhuizen, Leonie Labis, Michael Bezuidenhout, Ann Hubrecht, Felicia Lategan, Mona Eygelaar, Katia Callewaert en Enya Catelin net voor hulle uitstappie na Hartenbos verlede jaar.
Elke kind woon by 'n Belgiese/ Suid-Afrikaanse gesin tydens die besoek. Hulle spandeer ook genoeg tyd saam met die gesin om werklik die vreemde kultuur te beleef en waardeer.
In elke skool is daar 'n groep opvoeders wat alle reëlings tref tydens die besoekende skool se verblyf.
ARTIKEL & FOTO'S: MYRON RABINOWITZ, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'