GEORGE NUUS - Die dam by die Tuinroete Botaniese Tuin (TRBT) is besig om 'n gedaantever-wisseling te ondergaan. Na die voltooiing sal dit netjieser lyk en ook baie meer veilig wees.
Die dam het 'n lang geskiedenis en is reeds in die 1840's in gebruik geneem. Dit was die tweede dam wat destyds in George se waterbehoeftes voorsien het.
Christiaan Viljoen, kurator van die TRBT, het aan George Herald gesê die botaniese tuin het in 1998 tot stand gekom. Met die verloop van die jare het dit ontwikkel met die dam as die fokuspunt.
Die damwal het die laaste paar jaar geleidelik verbrokkel.
Op 22 November 2021 was daar 'n groot vloed in George en die dam het byna 100% kapasiteit bereik.
Daar is destyds dadelik voorsorg getref om 'n oorstroming te verhoed en 'n dreineringspomp is in die dam geplaas om die vlak te laat daal.
Volgens Christiaan het die probleme ontstaan omdat van die bome langs die dam gevrek het. Daardie bome se wortels het toe gevrot en holtes in die damwal gelos wat die damwal verswak het. Daar is besef dat daar dringend opgetree moet word en al die bome en plante langs die binnekant van die dam is verwyder. Die dam is daarna ook heeltemal leeggepomp.
Die dam is toe tot op sy bodem skoongemaak. Daar is ongeveer 4 000 m³ klei ingebring om die damwal te versterk. Daarna is grond bo-op die klei gegooi. Daar is ook 'n besluit geneem dat daar nie nog bome in die toekoms langs die paadjies van die dam geplant mag word nie.
'n Nuwe toevoeging is 'n eiland wat in die middel van die dam gebou is.
Dit sal hopelik baie voëls lok om daar te kom rus en om daar nes te maak. Op die oomblik loop die dam weer vol water wat vanaf 'n bergstroompie invloei, maar net wanneer dit reën en die stroom sterk afkom.
Hy het ook gesê: "Ons is afhanklik van die weer. Ons hoop dat die dam teen die einde van die jaar vol sal wees. Ons sal ook baie graag 'n voëlskuiling by die dam wil bou, maar sal eers moet wag tot ons die nodige fondse bekom het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’