GEORGE NUUS - Met die afsterwe van Colin Halgryn (84), het George en die groter Suid-Kaap 'n legende verloor - 'n man wie se lewensreis oorgeloop het van deursettingsvermoë, passie en 'n diep liefde vir mense en die gemeenskap wat hy gedien het.
Hy het op Woensdag 20 November sy stryd teen kanker verloor, tien dae ná sy 84ste verjaarsdag.
Halgryn, oorspronklik van Bethlehem, het sy hoërskoolloopbaan by Die Bult begin. Omdat Die Bult net tot by gr. 10 (destydse st. 8) gegaan het, behaal Halgryn matriek aan die destydse Oudtshoorn Handelskool.
Daarna kwalifiseer hy as onderwyser in handelsvakke aan die Kaapse Tegnies Kollege (Cape Peninsula University of Technology) en begin skoolhou in Bedford in die Oos-Kaap.
Toe daar egter ‘n pos by sy alma mater, Die Bult, oopgaan, het Halgryn gespring. Hy maak die skuif en voltooi die sirkel waar hy as skoolseun begin het.
Volgens ‘n familielid, Deon van Eck, het Halgryn se streng dissipline en toewyding diep spore in sy leerders se lewens getrap - so diep dat talle van sy oudleerlinge, die "Dasse," hom gereeld by die huis kom besoek het om hul waardering te betuig.
Na die afskaffing van lyfstraf by skole, het Halgryn besluit om sy loopbaan in die onderwys te beëindig en hom op 'n nuwe passie toe te spits: tuinmaak. Hy het vinnig naam gemaak met sy uitmuntende vaardigheid en kreatiwiteit, en sy slagspreuk, Colin Halgryn vir 'n Tuin Sonder Pyn, het deel van die George-erfenis geword.
Halgryn was egter veel meer as 'n onderwyser en tuinier. Op die sportveld het hy homself onderskei as 'n talentvolle en gedugte atleet. Hy het jare lank vir George se eerste rugbyspan op heelagter uitgedraf en selfs in 'n paar wedstryde vir SWD uitgeblink.
As afrigter van Die Bult se eerste rugbyspan, het hy die byna onmoontlike bereik deur vyf spelers van sy klein skool (met net 153 kinders) in die SWD Cravenweekspan te kry.
Later is hy as afrigter van SWD Cravenweek aangestel.
Op die tennisbaan was hy ‘n legende en onderskei hy hom verskeie keer as plaaslike enkelspelklubkampioen. Hy dien ook vir jare op die bestuur as voorsitter. “Dit was dan geen verrassing toe een van die hoofbane by die klub onlangs na hom vernoem is nie,” sê Van Eck.
Sy lewensdroom om Suid-Afrika op die tennisbaan te verteenwoordig, is uiteindelik bewaarheid toe hy Suid-Afrika as deel van die veteranetennisspan by die wêreldtoernooi in Turkye verteenwoordig het.
“Ironies dat die man wat op die rugbyveld en tennisbaan niks gehou het van verloor nie, die stryd teen kanker verloor het,” sê Van Eck.
Halgryn laat sy vrou Linda, seun Hannes en dogter, Anna de Lint, asook sy broer, Tienie agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’