GEORGE NUUS - Dis blomtyd vir clivias en Georgiet Leon van Rooyen se tuiskwekery met 100 000 van dié plante is 'n ware lus vir die oog.
Een van sy plante is by die onlangse Clivia-interspesieskou in George aangewys as die beste op skou.
Hierdie plant, saam met al die ander in die kwekery, is net bietjie meer as 'n jaar gelede met groot moeite van Vryheid af George toe gebring toe die Van Rooyens hierheen verhuis het.
Dit het 17 vragte in 'n 10-ton vragmotor met 'n 10-ton sleepwa gevat om Leon se geliefde plante waaraan hy al 25 jaar kweek en versamel, hierheen te vervoer.
Onder hulle was clivias waarmee hy oor die afgelope 25 jaar talle toekennings by skoue in Johannesburg, Pretoria en Vryheid ontvang het.
Nou hier in George het hy gou 'n tuiste gevind onder mede-entoesiaste van die plaaslike cliviaklub.
Omring van sy plante verduidelik Leon hoe hy deur middel van kruisbestuiwing interessante nuwe kruisings skep. Die rare kruisings wat uit hierdie proses voortkom, is oorsee gewild, veral onder Chinese versamelaars.
Hy was nog altyd lief vir plante. Eers het hy broodbome gekweek en toe orgideë, maar nadat hy deel geword het van 'n baie aktiewe cliviaklub op Vryheid, het hy sy nuwe liefde gevind.
"As 'n mens die saad self oes en ná vyf jaar sien wat jy kan regkry, raak jy meegevoer.
"Dit vat vyf jaar vandat die saad geplant is totdat die plant blom en agt jaar om skougehalte te bereik. Sekere spesies vat tot 12 jaar. Nadat 'n cliviasaad gemaak het, groei dit vir 'n jaar aan die plant voordat dit geoes kan word."
Hy geniet die verrassingselement van die kruisings.
"'n Mens weet nie vooraf wat jy gaan kry nie. Jy kan verskillende nuwe blomvorme en kleure kry, van oranje en geel tot groen en rooi, en skakerings van hierdie kleure.
"Die plante kry name en word noukeurig gemerk sodat 'n mens presies weet met watter plante die kruising gemaak is."
Die spesies se blomtyd verskil en dus het sy kwekery blomme van Julie tot in Desember.
Sy seun, Leon jr., volg nou in sy pa se voetspore en hoop om eendag die stuur oor te neem. In sy vrou, Linda, het Leon ook 'n geesgenoot wat versot is op tuinmaak en sy het reeds 'n pragtige tuin by hul nuwe huis aangelê. Wanneer haar man 'n bietjie meegevoer raak met sy stokperdjie wat nou 'n besigheid geword het, gee Linda dus glad nie om nie.
Amper wit met 'n groen skynsel.
Geel met 'n spatsel ligte oranje.
'n Mooi ronde kop vol perskekleur blomme.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’