GEORGE NUUS - Christo van der Rheede is op Vrydag 15 November aangewys as die nuwe voorsitter van Kunste Onbeperk se direksie.
Die uittredende voorsitter, Crispin Sonn, het die aankondiging tydens Kunste Onbeperk se 31ste algemene jaarvergadering by Die Neelsie in Oudtshoorn gemaak.
Olga Wyngaard is as vise-voorsitter aangekondig.
Van der Rheede is tans uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting en was van Oktober 2020 tot September 2023 die uitvoerende hoof van Agri SA, nadat hy in 2015 as adjunkdirekteur hier aangestel is.
Hy is sedert Oktober 2023 die adjunkprofessor van die Universiteit van die Vrystaat se besigheidskool, dien op die direksie van die ATKV en is 'n voormalige skoolhoof en onderwyser. Van der Rheede dien sedert November 2022 op die direksie van Kunste Onbeperk.
Hy het Vrydag gesê die KKNK was nog altyd vir hom baie meer as net 'n kunstefees. "Dit is die somtotaal van kunssinnigheid, kreatiwiteit, artistieke uitmuntendheid, estetika, konstruktiewe debat, inklusiewe ekonomiese en mense-ontwikkeling, welvaartskepping, nasiebou en plesierige samesyn.
"Ons is dankbaar teenoor die inwoners van Oudtshoorn wat ons toelaat om die fees jaarliks in die dorp te hou.
"Ons opregte waardering aan alle liefhebbers van die kunste wat die fees jaarliks besoek en al die borge wat die fees mildelik ondersteun. Dit is julle fees.
"Help ons om nuwe geleenthede te ontsluit, die fees volhoubaar te bedryf en om Suid-Afrika in sy diversiteit te verenig - deur middel van die skeppende kunste in Afrikaans."
Benewens die KKNK bied Kunste Onbeperk ook Klein Karoo Klassique, Karoo Kaarte ('n multidissiplinêre gemeenskapsprogram), en ander kunstegedrewe projekte soos Teksmark aan. Talle teaterproduksies word ook vir nasionale speelvakke vervaardig.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’