GEORGE NUUS - Biokinetikus Christie Smit (24), met 'n passie vir sport en die buitelewe, gaan haar kragte inspan en deelneem aan die Calling Cape Town-uitdaging.
Hierdie geleentheid is 'n fondsinsameling vir Calling Education - 'n stigting wat hul beywer vir beter opvoedingsgeleenthede vir hoërskoolleerders in Suid-Afrika.
Calling Cape Town vind plaas op 9 Maart.
Dit behels 'n 8 km oopwater-swem van Robbeneiland na Blouberg, deelname aan die Cape Town Cycling Tour (109 km), en die klim van die drie Kaapse pieke (Duiwelspiek, Tafelberg en Leeukop) - dit alles binne 24 uur.
Smit het verlede jaar in Mei na George verhuis en werk as biokinetikus by Anine van der Westhuizen se praktyk.
Buiten haar werk sal jy haar selde binne vier mure sien, want elke kans wat sy kry is sy besig om te stap, hardloop of fiets te ry.
Christie en haar broer, Jakobus Smit, tydens hul deelname in 2023.
"Vandat ek kan onthou is ek passievol oor sport, die buitelewe en die uitdaging om myself te verbeter," sê Christie. "Ek is baie lief vir driekamp en geniet dit om tyd in die berge te spandeer - dit is ook waar ek die naaste aan God voel. Ek voel ongelooflik bevoorreg om in George te woon en die natuurskoon hier te kan geniet."
In 2023 het Christie vir die eerste keer aan die Calling Cape Town-uitdaging deelgeneem.
"Die ervaring was iets wat ek nooit sal vergeet nie. Die hart van die gebeurtenis is nie dat dit 'n wedloop is nie, maar dat elke atleet die uitdaging voltooi - nie vir eie glorie nie, maar om fondse in te samel om onderwys in Suid-Afrika te bevorder.
Staptog in Switzerland.
"Die visie van Calling Education is om hoë kwaliteit onderrig aan lae-inkomste kinders te bied. Calling Education het die eerste Calling Academy in Stellenbosch in 2018 oopgemaak, daarna hul tweede skool in 2022 in Kroonstad, en in 2025 - 'n derde Calling Academy in Paarl."
Vir meer inligting en borgskap besoek die webblad www.callingeducation.org.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’