GEORGE NUUS - Sy's net duskant 100 jaar, maar Martie Norman is een van Tuiniqua-versorgingsentrum se inwoners wat nie 'n sosiale geleentheid mis nie.
Hoewel sy nie meer dorp toe gaan nie, bly sy in die sentrum besig. Sy hou die weeklikse aktiwiteitsprogram met arendsoë dop om te sien waar sy kan inskakel.
"Tannie Martie mis geen byeenkoms nie. Sy wil altyd oral wees waar daar iets gebeur," sê Annelie Bennett, die dienssentrumkoördineerder.
Norman, wat op 23 Oktober 'n eeu van lewe gaan vier, stap nog kort afstande met haar stootkarretjie. Sy hou daarvan om mooi uitgevat te wees en verder kyk sy graag televisie en lees baie.
"As ek verby die kamers loop en die mense lê so in die bed, dan vra ek hoe oud hulle is. Van hulle is baie jonger as ek. Ek glo 'n mens moet aan die gang bly en belangstel in die dinge om jou, dit help jou aan die gang bly."
Haar raad vir goeie gesondheid is baie groente en vrugte, min vleis en geen sterk drank nie. Sy is taamlik doof en verduidelik dat sy nie meer so lekker die besonderhede van die verlede kan onthou nie. Sy mis haar man, Bill, wat haar in 2019 ontval het.
Die egpaar het in George kom aftree nadat hulle hul hele lewe saam baie rondgetrek het, nie net omdat Bill in die mynwese gewerk het nie, maar ook omdat hy lief was om nuwe plekke te ontdek.
"Dit was vir my ma 'n groot slag toe my pa in 2019 oorlede is, want hulle was lief vir mekaar en baie gelukkige paartjie," vertel Allie Dent, die jongste van Norman se twee dogters, wat albei in Pretoria woon.
Dorslandtrekkers
"My ma is in Angola gebore en was maar nege jaar oud toe haar ma oorlede is. Die familie was deel van die Dorslandtrekkers wat hulle in Namibië gevestig het. Na haar ma se dood, het sy 'n moeilike lewe gehad. Sy was in 'n koshuis en sou vakansies by verskillende familielede tuisgaan. Haar pa en ouer broer het in die Tweede Wêreldoorlog geveg en kon nie na haar omsien nie."
Tanie Martie loop nog kort ente met haar stootkarretjie.
Romanse
Toe sy ouer was, het sy in Kaapstad beland waar sy op 'n wynplaas begin werk het. Sy en Bill het in die losieshuis ontmoet waar hulle albei gewoon het. Hulle is in 1950 getroud.
"My ma se lewe het heeltemal verander en dit was die begin van baie gelukkige jare. My pa is net voor sy 93ste verjaarsdag oorlede, so hulle was bykans sewe dekades saam."
Tannie Martie was baie kunstig en het onder meer geskilder en pottebakkery gedoen. "My ma was nog altyd geïnteresseerd in die mooi dinge in die lewe en dis waarop sy gefokus was. Na my pa se dood wou my ma in Tuiniqua aanbly waar hulle afgetree het. Sy word daar ongelooflik goed versorg."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’