GEORGE NUUS - Die Ry & Sleep Bull Run 2025 vind die komende naweek, van 9 tot 12 Oktober, in die klein Karoodorpie genaamd Van Wyksvlei in die Noord-Kaap plaas.
Dis hier waar die manne én vroue opdaag met hulle opgetooide ou karre om op die stofpad te kom jaag. Dit beloof om 'n heerlike kuier te wees met tonne pret.
Mense kom van heinde en ver vir die geleentheid.
Gister, 8 Oktober, het die plaaslike sakeman, Jan Fockens van Focken's Engineering, uit George met Die Boerbok Lek vertrek. Dit is die tweede jaar wat hy deelneem.
Reëls vir die rygoed sluit in dat motors nie jonger as 40 jaar mag wees nie, hulle mag nie gemodifiseer word nie en daar mag nie meer as R50 000 aan die motor spandeer word nie.
Deelnemers word aangemoedig, en kry selfs punte, as die motor self tot daar ry en dan aan die wedren deelneem. Volgens die organiseerders mag jy wel jou motor optooi en so kreatief raak as wat jy wil, solank jy jou kerk-, politieke en rasverwante kwessies by die huis los.
Die boerbok vat jy nie sonder handskoene aan nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’