GEORGE NUUS - Vroue van ACVV Huis Harmonie en vrywilligers van Solidariteit Helpende Hand was vuur en vlam om op Nasionale Breidag, Donderdag 5 Junie, hul breinaalde vir 'n goeie doel in te span. Pittige sêgoed om 'n tafel vol heerlike eetgoed het die regte atmosfeer vir dié dag geskep.
Terwyl die dames gesellig om 'n koppie tee en eetgoed geklets het, het die breinaalde behoorlik geklap om handskoene vir Laerskool Herold se leerders te brei.
"Ons wou nie net die dag vier nie, maar iets tasbaars doen vir die gemeenskap," sê Tracey Weideman van Helpende Hand. "Ons het besluit om iets nuttigs te brei, en wat is meer prakties as 'n paar warm handskoene?"
Die inwoners van Huis Harmonie was in hulle element. "Ek het al van kleins af gebrei," vertel Dina Wentzel, 'n lewenslustige 80-jarige inwoner met 'n vonkel in haar oog. Hester du Plessis het gesê: "Dis goed om te weet dat ons kinders met hierdie projek kan help."
Die atmosfeer was gevul met lag en herinneringe: van 'n geel, brullende duinebesie tot streng naaldwerk-onderwyseresse met liniale. Dié inisiatief het nie net warmte vir die kinders gebring nie, maar ook vreugde en samehorigheid vir die seniors en die vrywilligers van Helpende Hand wat betrokke was.
Hester du Plessis en Amelia Laing (Helpende Hand).
Helpende Hand beoog om nog sulke projekte aan te pak en nooi die gemeenskap van George uit om in die toekoms saam te brei vir 'n warmer winter vir almal. Die dames van Helpende Hand wil ook elkeen bedank wat wol en breinaalde vir hierdie projek geskenk het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’