GEORGE NUUS - Ten spyte daarvan dat hulle bykans daagliks met grutonele werk, is die Victoriastraat-bouramp 'n voorval wat die stad se ER24-paramedici nog lank sal bybly.
Hulle was eerste op die toneel kort nadat die gebou op 6 Mei 2024 omstreeks 14:09 meegegee het.
Alister Louis was in die ambulansdiens se kantoor in Yorkstraat 65, slegs 240 m vanaf die Neo Victoria-gebou, toe hulle skielik iets ervaar wat soos 'n rukwind gevoel het.
"Al die kantoor se vensters en deure het skielik toegeklap," vertel Louis.
Oomblikke later het iemand van die kantoor langsaan aan die deur geklop en gesê die Neo Victoria-gebou het ineengestort. Louis het dadelik na buite gehardloop waar hy deur 'n groot rooi stofwolk begroet is. Hy kon ook nie meer die Neo Victoria-gebou sien nie.
Hy spring toe blitsvinnig in sy nood-voertuig en ry na die toneel om hulp te verleen. Op pad uit die parkeerarea kom hy sy kollega, Sylvester Arendse, teë wat op pad terug van die hospitaal af was. Hy beduie toe vir Arendse om hom te volg.
Louis en Arendse beskryf 'n bykans surrealistiese toneel, amper soos uit 'n Hollywood-film, asook die skok waarmee hulle besef het, hier het iets ernstigs gebeur.
Waar die byna voltooide vyfverdiepingwoonstelblok moes staan, hang daar net 'n digte stofwolk. Uit die stofwolk het daar vier konstruksiewerkers verskyn. Hulle was van kop tot tone in stof bedek.
Dit was chaos. Almal het gelyktydig om hulp geroep. Aan die bokant van die hoop opgefrommelde metaal en verbrokkelde beton was 'n man wie se been vasgevang was, maar reddingswerkers kon nie net blindelings instorm en begin help sonder om eers vas te stel of die toneel veilig is nie.
Daar was steeds 'n baie groot risiko op 'n sekondêre intuimeling.
Die vier mans wat uit die stof te voorskyn gekom het, is gevra om op die gras te sit sodat triage toegepas kan word. Triage is die proses waarin pasiënte op grond van die erns van hul beserings in groepe gedeel word ten einde te bepaal wie eerste behandel moet word.
Die kaart dui aan hoe naby ER24 se kantore aan die ramptoneel in Victoriastraat geleë is. Foto: Google Maps
Redding en herwinning: 'n emosionele tuimeltrein
JP Carstens, 'n paramedikus van ER24, was tydens die ineenstorting in Mosselbaai, en het die eerste plasings oor die ramp op Facebook gesien.
Toe sy skof twee dae later aanbreek was dit steeds 'n reddingsoperasie (m.a.w. daar was nog kans om oorlewendes te vind) en het hulle daardie dag vier of vyf oorlewendes, wat onder die bourommel vasgekeer was, gered.
Daar was 'n groot gejuig onder reddingswerkers en omstanders elke keer as 'n oorlewende na bo gebring is. Dit doen wondere vir moraal en dra reddingswerkers deur die hartseer tye wanneer hulle nie betyds by mense kon uitkom nie.
Arendse onthou van die oorledenes met wie hulle 'n ruk lank gekom-munikeer het en moed ingepraat het, maar wat dit nie gemaak net nie.
Die eerste oorlewende wat hy hospitaal toe geneem het, is 'n man wat van die gebou af gespring het toe dit begin ineenstort het.
Hy was gelukkig om net beenbreuke op te doen. Arendse verduidelik dat die meeste slagoffers drukbeserings (crush injuries) opgedoen het. Dit sou ook 'n groot faktor in lewe en dood speel.
Traumatic rhabdomyolysis (crush syndrome) is 'n ernstige mediese toestand wat tipies na traumatiese kompressie van spierweefsel voorkom.
Wanneer spierweefsel styf vasgedruk word en die druk dan verlig word, volg 'n sistematiese inflammatoriese reaksie wat dan lei tot die afbreek van spierweefsel. Dit lei tot die vrystel van protein en myoglobien in die bloedstroom wat weer tot nierversaking kan lei.
In ernstige gevalle word die familie gewoonlik gebel om geliefdes op die toneel te kom groet. Maar weens die onstabiele aard van die Neo Victoria-toneel was dit nie 'n opsie nie.
Die ER24-span het van die bouers se gesigte geken. Hulle het elke dag by hulle kantoor verbygestap om by Pick n Pay kos te koop. Arendse sê die ramp het ook hier 'n leemte gelaat want skielik was die gesigte nie meer daar nie.
ER24 was eerste op die toneel nadat die gebou inmekaar getuimel het. Foto: ER24
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’