Die man wat teregstaan op die moord van Chandré 'Blondie' Vorster (32) is Vrydag 13 Maart borgtog in die George-landdroshof geweier.
Lhewellyn Trantraal (36) sal weer op Vrydag 20 Maart in die hof verskyn.
Familielede van die oorledene wat buite die hof gewag het, het bevestig dat hulle 'n petisie ingedien het om borgtog teen te staan.
Die familie fokus nou daarop om 'n verdere petisie van stapel te stuur om ander lede van die gemeenskap, wat glo betrokke was by Vorster se beweerde aanranding kort voor haar dood, ook in hegtenis te laat neem.
Die polisie het bevestig dat die ondersoek voortduur en dat alle leidrade opgevolg word.
Vorster is op 5 Maart in Conville dood nadat sy glo met 'n mes in die been gesteek is. Sy het kort daarna gesterf.
Haar kêrel, Trantraal, is as die hoofverdagte in hegtenis geneem.
Volgens familielede het Vorster vroeër dieselfde dag reeds ernstige beserings tydens 'n beweerde groepsaanranding by haar woning in Rosemoor opgedoen het. Hulle meen dat dit deel van 'n voorafbeplande aanval was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’