GEORGE NUUS - Bobbejaanmanewales in Denneoord duur voort en inwoners wat daardeur geraak word, is raadop.
In een van die jongste voorvalle het 'n trop van sowat 15 bobbejane chaos by Marius Nel se huis in Negendelaan veroorsaak.
Hy was by die werk toe sy huis se alarm afgaan. Tuis aangekom, moes hy sien die skuldiges wat sy eiendom betree het, is 'n trop bobbejane. "Dit was 'n groot gemors. Hulle het die vullisblik, wat ek stewig toebind met fietsbande, oopgekry. My groot hond weet al om weg te kruip wanneer hulle kom, maar die kleintjie is byna gevang. Sy het by bosse in gevlug."
Op 'n sekuriteitsvideo-opname kan gesien word hoe die bobbejane by verskillende plekke uitpeul en laat spaander toe hy opdaag en hulle begin verjaag.
Nel sê hoewel hy 'n taamlike ent van die berg af bly, is die bobbejane omtrent elke derde dag by sy huis.
Op 'n WhatsApp-groep vir inwoners is daar aanhoudend klagtes. Van die mense skryf dat die bobbejane tot vensters uit kosyne uitruk en diefwering oopbuig.
"Die bobbejane raak mensmak en ons is gevangenes in ons eie huise. My kinders is vyf en drie jaar oud en ons is bang dat hulle in die tuin moet speel."
Rika Hanekom, 'n inwoner naby die berg, sê troppe van 15 bobbejane wat deesdae in die buurt rondbeweeg is niks snaaks nie, maar dit was nie altyd so nie.
"Ons bly al 25 jaar hier, maar dis net in die laaste paar jaar dat hulle 'n probleem geraak het. Ons plant nie meer groente nie. Hulle het ons hidroponiese stelsel beskadig. Ons moes ons dek ook toemaak. By ons bure het die bobbejane die braai se klap afgebreek. Hulle kan wild tekere gaan."
Hanekom sê haar seuntjie was eenkeer in die huis vasgekeer saam met 'n bobbejaan wat by die voordeur ingeglip het toe hulle op die punt was om iewers heen te ry. "Ons het net gou binnetoe gegaan vir iets wat ons vergeet het.
"'n Bobbejaan, wat my bokant die heup pas, het ongesiens ingeglip. Ons het almal by die deur uitgespat, maar my seuntjie kon nie betyds uitkom nie.
"Hy was absoluut bevrees. Die bobbejaan het 'n boksie eiers wat op die toonbank gestaan het, rustig gestaan en opvreet en die yskas en vrieskas oopgemaak terwyl ons staan en toekyk."
Volgens Hanekom is daar geen reaksie van die George-munisipaliteit op gereelde klagtes wat hulle op die MyCityApp plaas nie.
Vullis het oral versprei gelê.
'Leer om met bobbejane saam te leef'
In reaksie op die klagtes het die George-munisipaliteit se senior kommunikasiebeampte, Ntobeko Mangqwengqwe, gesê die owerheid staan simpatiek teenoor inwoners wat probleme ervaar as gevolg van die bobbejaanpopulasie in die noordelike gebiede van die dorp, maar hulle moet leer om met die bobbejane saam te leef.
"Dit is ook belangrik dat alle belanghebbendes saamwerk om oplossings te vind vir hierdie komplekse situasie. Ons as mense het bobbejane se natuurlike habitat betree en hulle word beskerm onder die Ordonnansie op Natuurbewaring 19 van 1974."
Primatoloog
Mangqwengqwe het die primatoloog Dave Gaynor aangehaal wat sê bobbejane vorm al vir miljoene jare 'n belangrike deel van die fynbos-ekosisteem.
"Hulle verwydering sal 'n definitiewe impak op die natuurlike plantegroei hê. "Bobbejane speel 'n belangrike rol in plantverspreiding en voortplanting, en dus biomassa. Hulle hou ook skerpioene, slange en rotte uit die gebiede waar hulle rondbeweeg."
Woongebiede en dorpe is 'n aanloklike alternatief vir fynbos omdat die kanse op hoëkaloriekos goed is. "Byvoorbeeld, net 'n halwe bruinbrood is gelykstaande aan vier ure se kos soek in fynbosveld vir 'n wyfiebobbejaan," sê Mangqwenqwe.
Bobbejane sal nie gevang, hervestig of uitgeskakel word nie, tensy daar 'n redelike oorsaak daarvoor is. Hervestiging het in sekere gevalle bevredigende korttermynresultate opgelewer, maar dit los nie die probleem permanent op nie.
Bobbejane het die vullisblik, wat stewig met fietsbande toegemaak was, oopgekry.
Verhoed toegang tot menskos
Mangqwengqwe sê dis wesenlik belangrik dat alle betrokke partye verhoed dat bobbejane menskos eet deur toegang tot vullis uit te skakel, huise bobbejaanbestand te maak, en nie kompos te maak of vrugte en groente te kweek tensy dit ingehok of met elektriese omheining afgesper word nie.
"Inwoners wat vermoed dat 'n spesifieke bobbejaan of trop 'n beduidende probleem veroorsaak, word aangemoedig om foto's te neem en voorvalle van destruktiewe en gevaarlike gedrag te dokumenteer, asook enige besonderhede wat die identifikasie van probleem-bobbejane kan vergemaklik.
"Hoewel dit nie ideaal is nie, kan bobbejaanbestuursmaatreëls insluit dat die dier as laaste uitweg van kant gemaak word, maar slegs indien bewese data van 'n spesifieke probleem-individu bestaan."
E-pos sulke inligting na sprins@george.gov.za of kontak die bobbejaanbestuursafdeling by 044 801 6350 (k/u) of 044 801 6300 (na-ure).
Volgens Kaapse Natuurbewaring bly daar drie bobbejaantroppe in die Outeniquaberge tussen Witfontein en Saasveld. Hulle getalle wissel tussen 20 en 50 diere per trop.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’