GEORGE NUUS - Die plaaslike hengelgemeenskap treur oor die dood van die geliefde hengelaar en sakeman, Hennie Kleyn (75), wat deur baie beskryf word as 'n ware legende.
Kleyn, wat vir dekades lank betrokke was by die plaaslike hengelbedryf, het nie net talle hengelaars met toerusting en raad gehelp nie, maar ook diep spore in mense se harte getrap met sy vriendelikheid, humor en passie vir visvang.
Volgens sy dogter, Gerda-Mari Pentz, was haar pa by Groenkloof vir rehabilitasie ná 'n suksesvolle heupoperasie.
Hy sou op 21 Mei ontslaan word, maar in die vroeë oggendure van dieselfde dag het sy toestand skielik versleg. 'n MRB-skandering by Mediclinic het bevestig dat hy 'n derde massiewe beroerte gehad het. Kleyn is op Maandag 25 Mei omstreeks 12:20 vreedsaam in sy slaap oorlede.
Ná sy tweede beroerte in 2022 was hy van 'n rolstoel afhanklik, maar ten spyte van sy gesondheidsprobleme het hy sy omstandighede aanvaar.
In 'n huldeblyk het sy seun, Hennie Kleyn, geskryf dat sy pa "'n fondament gebou het waarop 'n familie staan". Hy het sy pa onthou as iemand op wie hulle altyd kon staatmaak. 'n Man wie se groot liefde die see, hengel en musiek was.
"Daar was altyd nog net één laaste gooi, nog één storie, en altyd tyd vir mense langs die water," vertel hy.
Pentz het haar pa beskryf as 'n "ware mense-mens" wat almal laat voel het hulle behoort.
"Vir ons was hy ons voorbeeld en ons veilige plek," het sy gesê.
"Sy vriendelikheid en warmte het mense na hom toe aangetrek, en oral waar hy gegaan het, het hy vriende gemaak. Langs die water het hy vrede gevind. Dit was nie altyd net oor die vis nie, maar oor die stil oomblikke, die stories, die lag en die tyd saam met die mense wat hy liefgehad het."
Sy jongste seun, Francois Kleyn, sê sy pa was meer as net 'n legende. "Hoe som mens in woorde my pa op? Die algemene woord is legende," het hy geskryf.
"'n Pa wat saam krieket gespeel het in die binneplaas. 'n Pa wat my geleer visvang het. 'n Pa wat my op die regte pad gehou het. Pa sal vir altyd in ons harte wees, veral op Kleinkrantz met visstok in die water en bloedwurm aan die hoek. Ek sal pa se woorde onthou: 'Ou bul, hoe groter die wurm, hoe groter die vis.'"
Kleyn se vriend en vennoot, Johann Barnard, het groot dank en waardering vir hom.
"Ek en oom Hennie het vir 13 jaar saam gewerk. Hy het vir my die deur in die hengelbedryf, waar ek vandag al vir vyf jaar die eienaar van Xtreme Fishing is, oopgemaak. Sy kennis van die see en hengel was astronomies en hy het my meestal alles geleer wat ek vandag weet. Hy het talle mense geleer, van Suid-Afrikaners tot mense van Engeland. Selfs wanneer ons gesukkel het om hulle Engels te verstaan, het hy steeds 'n manier gehad om hulle te leer hoe om bloedwurms te trek en met oopspoel Penn-katrolle te hengel."
Kleyn se familie het ook hul opregte dank uitgespreek teenoor dr. Ignatius Immink, die personeel van Groenkloof, asook die Mediclinic Critical Care Unit, vir die sorg en ondersteuning gedurende sy laaste dae.
Kleyn word oorleef deur vrou, kinders en kleinkinders.
Kleyn word Vrydag om 15:00 by die NG Kerk George-Suid begrawe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’