GEORGE NUUS - Die Bela-wet (Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys) het die afgelope paar dae die nuus gehaal na die "Neoar/Nedlac-skikking" tussen Solidariteit en die regering.
"Die belangrike deurbraak is dat ons nou weer tyd aan ons kant het dat Afrikaanse skole waarvan die kapasiteit vol is, nie 'n instruksie sal kry oor taal en toelating nie. Dit is 'n groot verligting vir Afrikaanse skole," het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Die Solidariteit-beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, het 'n skikking met die regering by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling- en Arbeidsraad (Neoar/Nedlac)* oor die Bela-dispuut bereik.
Die partye tot die dispuut by Neoar was Solidariteit, die Presidensie en die minister van basiese onderwys. Luidens 'n onlangse verklaring van Solidariteit het Neoar bevestig dat die dispuut opgelos is.
"Volgens die skikking gaan die omstrede artikels in die Bela-wet nie meer op 13 Desember geïmplementeer word nie," lui Solidariteit se verklaring.
Taal- en toelatingsbeleid
"Norme en standaarde, nasionale beleide en regulasies, moet eers ontwikkel word wat onder meer sal bepaal dat skole wat op hul volle kapasiteit is nie instruksie mag ontvang om hul taal- en toelatingsbeleid te verander nie. "Wat taal- en toelatingsbeleid betref, moet die onmiddellike omgewing van die skool en/of sy voedingsone, en nie die groter onderwysdistrik nie, in ag geneem word," het Hermann gesê.
Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.
"Die uitvoering van die aanbevelings sluit nie die moontlikheid uit dat daar 'n behoefte mag wees vir toekomstige wetswysigings aan artikel 4 en/of 5 van die Bela-wet nie. Dit alles sal deel vorm van 'n proses waarin omvattende aanbevelings van die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, aan president Ramaphosa gemaak word vir sy behoorlike oorweging."
Die Neoar-skikking raak egter nie die regeringsproses of enige ander prosesse rakende die Bela-wet nie.
"Die Solidariteit-beweging sal wel die uitkoms van die skikking aan die regering van Nasionale Eenheid voorhou," het Hermann gesê.
Steun werf by VN
Intussen het Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheids-aangeleenthede in Genève, Switserland, bygewoon om steun te werf vir hul stryd teen die Bela-wet.
"Ons wil steun werf teen die vernietigende gevolge van wetgewing wat oorvol skole en verengelsing moontlik maak, soos wat die nou aangepaste toelatings- en taalbeleidbepalings van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys 32 van 2024 (die Bela-wet) sou inhou," het Bailey gesê.
"Hierdie stap is deel van die organisasie se internasionale veldtog vir die bevordering van moedertaalonderrig."
Verklarings en menings
Volgens dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas (Federasie van beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole), is daar tans verskillende verklarings en menings van die partye in die media. "Die saak/geskil is duidelik nog ver van afgehandel," het hy gesê.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.
"Die president het die Bela-wet op 13 September 2024 onderteken en toe aangekondig dat daar 'n verdere drie maande tyd vir konsultasie oor klousules 4 en 5 (die bepalings oor toelating en taal) toegelaat word. Daardie tyd loop nou vinnig uit. Die proses tussen die partye in die Regering van Nasionale Eenheid is ook nog aan die gang onder die voorsitterskap van die adjunkpresident en die komitee wat met die gesprek getaak is moet ook eersdaags terugvoer gee."
Volgens Deacon is daar nog geensins aan die inhoud van die Bela-wet gewysig nie en dit sal 'n wysigingswet-proses verg om dit te doen. "Die ooreenkoms sal wel 'n invloed op die inwerkingtreding van die twee klousules hê indien daar wel 'n proklamasie gepubliseer word."
- Die Engelse afkorting vir die Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling- en Arbeidsraad (Neoar) is Nedlac, wat ook dikwels gebruik word. Dit is die struktuur waardeur die regering, georganiseerde arbeid, en georganiseerde besigheid poog om saam te werk, deur probleemoplossing en onderhandeling, oor ekonomiese, arbeids- en ontwikkelings kwessies en verwante uitdagings wat die land in die gesig staar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’