GEORGE NUUS - 'n Ondervinding met bedelaars wat op sy voertuig toegesak het by die George-stortingsterrein was só ontstellend vir 'n inwoner wat bourommel daar gaan afgooi het, dat hy dit nie weer daar sal waag nie.
Sy vrou, wat anoniem wil bly, vertel hy is soontoe op Vrydag 14 Oktober. Hy het ingeteken by die sekuriteitspunt by die toegangshek en die wag het vir hom gewys waar hy wat moet weggooi.
"My man sê van daar af het bedelaars langs die bakkie gehardloop tot waar hy moes stop om die rommel af te gooi. En toe pak hulle hom toe.
"Daar was maklik 50 plus mense. Hulle spring op jou voertuig, dwing hulleself by die vensters in en raak aggressief en slaan mekaar teen jou voertuig vas. Dan is daar ander wat hom sommer gedreig het dat hy hulle moet betaal of iets gee, anders laat hulle hom nie uitry nie. My man is nie 'n bang mens nie, maar toe hy daardie dag terugkeer, wás hy bang en geskok.
"Hoe belaglik is dit dat die munisipaliteit sulke gedrag op die stortingsterrein toelaat waar mense se voertuie skade kry en hul lewens bedreig word? Hulle moet 'n plan maak daar.
"Ek verstaan hoekom mense dan eerder hulle vullis op ander plekke of in strate los, want dis te gevaarlik om daar in te gaan. Boonop is die pad daar amper nie eers rybaar nie."
Die area waar vullis afgegooi kan word. Foto's: Alida de Beer
Met George Herald se besoek aan die terrein net voor 17:00 Dinsdagmiddag, was daar verskeie voertuie en vragmotors om vullis te kom weggooi. Daar was nie 'n toeloop van bedelaars nie, maar op die koerant se Facebook-blad het talle lesers gesê hulle het soortgelyke ondervindings aan dié van die anonieme klaer gehad.
Petro Beukes het gesê sy is "vreesbevange" wanneer sy daar is. "Die mense spring net eenvoudig op jou voertuig of sleepwa en is dreigend. Ons is ook al gevloek."
Een man het gesê sy bakkie is al met bakstene gegooi en nog een se werker is aangerand. Volgens Sally Delport het sy gehoor iemand se sleutels is blykbaar uit sy voertuig geruk en tussen die vullis gegooi.
Daar is ook mense wat dit heeltemal anders ervaar. Mark Jacobs sê: "Ek gaan gereeld soontoe en behandel die mense met respek en gee hulle 'n tip of iets om te eet om my goed af te laai en ek het nog nooit probleme gehad nie."
Elsie Horn, wat verlede week saam met haar seun daar was, het gesê die mense op die terrein was baie beleefd.
George-munisipaliteit se direkteur vir gemeenskapsdienste, Dawie Adonis, het sy spyt uitgespreek oor sulke voorvalle.
"Die munisipaliteit het die vullisrapers by die Gwaiing-vullisterrein toegelaat sodat hulle herwinbare afval kan optel om aan herwinningsentrums te verkoop as deel van die groen en sirkelekonomie.
"Die munisipaliteit sal al die vullisrapers wat wanordelik optree, verwyder om te verseker dat gebruikers van die vullisterrein nie bedreig voel wanneer hulle dit gebruik nie. Die munisipaliteit sal wetstoepassingsbeamptes op 'n gereelde grondslag uitstuur om die veiligheid van ons inwoners te verseker."
Die munisipaliteit het in Oktober, in samewerking met herwinningsentrums en die provinsiale departement van omgewingsake, 'n avalherwinningsprogram bekendgestel wat die rol van afvalherwinners in George formaliseer.
Volgens Adonis speel vullisrapers vir dekades al 'n groot rol om herwinbare afval bymekaar te maak, te sorteer en te verkoop.
Hulle het sodoende al tonne afval van die dorp se strate en munisipale stortingsterrein weggehou.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’