UNIONDALE NUUS - Die kop van die bekende spookvroubeeld by Uniondale het verlede week tydens die stormweer verdwyn en ’n R1 000-beloning word nou aangebied vir die veilige terugbesorging daarvan.
Volgens die skepper van die beeld, Ian Visser van Hoekwil, is die skade aan die 2.2 meter hoë beeld die werk van vandale.
“Ek het beton gebruik om dit te maak en dis onmoontlik dat die wind die kop kon afruk. Die beton moet nou na al die jare op vol sterkte wees. As ’n mens kyk na die skade, is dit duidelik dat die kop skoon afgesny is.”
Hy sê dis hartseer, maar is reeds besig om dit te herstel. Verder het hy begin werk aan die ontwerp van ’n nuwe beeld op versoek van die Uniondale-sakekamer met sewe figure wat nie spesifieke individue sal wees nie, maar persone sal voorstel wat ’n verskil gemaak het in Uniondale in die verlede asook dié wat in die toekoms positiewe verandering bring.
“Dis ironies dat ek die versoek vir die nuwe beeld ’n week voor die storms ontvang het," sê hy.
Visser het die spookvroubeeld in 2023 by die Willowmore-ingang van die dorp opgerig as ’n skenking om toerisme te bevorder. Dit verwys na die spookvrou-legende van Uniondale.
Visser sê talle toeriste draai spesiaal van die hoofroete af om dit te besoek en hulle verwyl dan tyd in die dorp, wat plaaslike ondernemings soos koffiewinkels en ander besighede ’n hupstoot gee.
“Die beeld het binne ’n paar jaar wêreldwye positiewe publisiteit ontlok en word op plaaslike motorfiets- en bustoere as ’n nasionale besienswaardigheid gesien. Selfs die televisieprogram, Carte Blanche, het ’n insetsel gedoen oor hoe reisigers afdraai om deur die dorp te ry. Dit wys die impak wat een beeld op ’n klein dorp se ekonomie kan hê."
'n Plaaslike inwoner het bewus geword van die skade op Dinsdagoggend, 12 Mei, die dag ná die windstorms.
Enigiemand met inligting oor die vermiste kop of die voorval kan Anthea by 079 417 5599 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’