Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Grafsteen in Blanco van een van George se bekendste families, Chris en Marie Stander, is met pienk verf beskadig. Die grafsteen staan digby Maitlandweg.
Wyle Chris en Marie is die ouers van Jannie Stander, bekende boer en ook die ouma en oupa van die voormalige internasionale rugbyspeler, CJ Stander.
Van die ander grafstene in die begraafplaas is ook beskadig, maar die Standers se grafsteen is die enigste een wat met pienk verf gegooi is. Tydens George Herald se besoek het 'n deksel van 'n houer pienk verf eenkant gelê.
Jannie het Maandag vertel dat hy tydens 'n besoek aan sy ouers se grafte op 20 Junie gesien het sy ouers se grafsteen met pienk verf beskadig. Hy het daarna die saak by die polisie aangegee.
Volgens Jannie was hy voor dit op Sondag 4 April nog by die grafte. Dit was die dag na sy ander seun, Janneman op 3 April, getroud is. Op die dag was alles nog reg gewees.
Op 3 April het sy broer Attie, die grafte besoek en hy is die dag deur booswigte met kapmesse aangehou en van sy besittings beroof. Van die besittings is later teruggevind.
"Ek was geskok toe ek sien hoe die grafsteen met pienk verf beskadig is. 'n Mens verwag dit nie. Ek het nie 'n idee wie dit is nie."
Dit was nie die eerste keer dat die grafsteen beskadig is nie. In 2016, nog voor sy ma se dood, is dit ook beskadig. Hy het in 1994, toe sy pa oorlede is, ses grafte daar vir die familie gekoop. Dit het destyds R150 elk gekos. "Die gedagte is dat die familie daar begrawe word."
Benewens sy ouers, is reeds twee van sy swaers al daar begrawe. "Ek is bereid om 'n beloning aan te bied as die skuldiges opgespoor kan word," het Jannie gesê.
Jannie Stander (links) en een van sy seuns, CJ Stander, die voormalige internasionale rugbyspeler. Foto: Eugene Gunning.
Kyk 'n video hieronder:
George-munisipaliteit sê:
Allen Paulse, direkteur van gemeenskapsdienste, het gesê in sover die beskadiging van grafstene betref is dit 'n funksie wat ressorteer onder Wetstoepassing waar dit aangemeld behoort te word. Die begraafplaas is deels onder die beheer van die munisipaliteit, wat ook deur die instansie onderhou word.
Gedeeltes behoort aan verskeie kerkdenominasies onder wie daar tweespalt is rondom die verkoop van grafpersele en aan wie die persele behoort. "Ons is tans besig om met alle belanghebbendes in verbinding te tree - veral diegene wat na die vorige vergadering per handpos uitgenooi is, en sonder enige verskoning versuim het om die vergadering by te woon."
Volgens Paulse is die begraafplaas al verskeie kere omhein maar vandale en booswigte het dit onmiddellik na oprigting vir skroot verwyder.
Die beskadiging van grafstene in begraafplase is 'n verskynsel van moedswilligheid wat voortdurend voorkom, nie net in George nie, maar ook in die omliggende operasionele begraafplase - selfs die wat alreeds in onbruik is.
Die onus vir die oprigting en onderhoud van grafstene, gewoonlik opgerig deur privaat kontrakteurs, is by uitstek die verantwoordelikheid van die familie, hoewel George-munisipaliteit verantwoordelik is vir die instandhouding in sover dit die opvul van gesakte grafte behels.
Enige rekords in munisipale besit is slegs vir rekord en statistiese doeleindes en daar is geen bywet verpligtend dat die munisipaliteit sodanige funksie moet verrig nie - derhalwe help ons waar ons kan indien sodanige rekords wel in ons registers verskyn.
Paulse het gesê York-begraafplaas is onlangs vergroot met 'n ekstra 18 000 vierkante meter in grafpersele en die dieselfde proses word aanstons in die Uniondale en omliggende areas van stapel gestuur.
Die grafsteen in Blanco van wyle Chris en Marie Stander, voordat dit beskadig is. Foto: Eugene Gunning.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'