Update
GEORGE NUUS - 'n Bejaarde broer en suster van Pacaltsdorp, Ismail (67) en Fatima Parker (78), is gister, Dinsdag 10 Junie, uit hul huis in Aloestraat gesit waar hulle hul hele lewe lank gewoon het.
Me. Parker was alleen tuis toe dit gebeur het en hulle besittings is op die sypaadjie uitgepak. Parker het 'n bejammerenswaardige figuur geslaan waar sy in die koue tussen hulle besittings gestaan het.
Mnr. Parker was op daardie stadium nie by die huis nie. Hy het aan die George Herald gesê hulle gaan op die oomblik tuis by familie en vriende.
Volgens sy prokureur, Ayanda Kettledas, is 'n uitsettingsbevel in Februarie teen die Parkers bekom.
George Herald het voorheen berig oor 'n jarelange dispuut oor die eienaarskap van die grond tussen die Parkers en hul oorlede oom, George Volkwijn, en ook later sy seun, Alexander, nadat laasgenoemde blykbaar die grond by hom gekoop het.
In 2008 het Volkwijn junior 'n uitsettingsbevel teen die Parkers verkry waaraan hulle nie gehoor gegee het nie. Hulle is toe van minagting van die hof aangekla.
Die saak het voortgesleep tot in 2016 toe die Parkers in die George-landdroshof onskuldig bevind is nadat Volkwijn nie voldoende bewys kon lewer van eienaarskap van die grond nie.
Volkwijn het die grond in 2023 per veiling aan die nuwe eienaar, Wallied Hickley, verkoop.
Hickley het by navraag gesê nadat hulle die eiendom gekoop het, het hulle lewensreg vir die Parkers aangebied en wou die huis waarin hulle gewoon het, onderhou, maar die aanbod is nie aanvaar nie. "Ons het toe maar die wetlike proses gevolg."
Volgens Kettledas, teken hy namens die Parkers appèl aan teen die uitsetting.
Die Parkers se suster, Ghalima, wat al die jare saam met hulle gewoon het, is in 2023 oorlede. Die twee susters was albei onderwyseresse in Pacaltsdorp.
Verwante artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’