Update
GEORGE NUUS - Wat as 'n rustige Sondagmiddag-avontuur begin het, het op 6 April in 'n uitdagende reddingsoperasie ontaard toe twee lede van 'n kloofinggroep in die Kaaimansrivier beseer is.
Die NSRI Wildernis is om 17:54 ontbied nadat een van die agt avonturiers hulp ontbied het.
Die groep was sowat 1,5 km stroomop van die N2-brug naby die Kaart van Afrika besig om die kloof te verken toe een man 'n mediese noodgeval en hipotermie ervaar het en 'n ander beseer is ná 'n val vroeër.
Nooddienste het 'n punt by die naaste bereikbare plek opgerig, waar paramedici die beseerde pasiënt kon behandel vir sy beserings na die val.
Intussen het NSRI-lede, lede van die Metro-reddingseenheid en George-brandweer, onder uitdagende toestande en in die donker, die tweede pasiënt bereik.
Hy is op die toneel gestabiliseer en in 'n drywende draagbaar geplaas. 'n Plaaslike inwoner het spontaan gehelp deur warm water en droë handdoeke teen die koue aan te bied.
Die NSRI-span het daarna met die pasiënt en die res van die groep die moeilike roete stroomaf aangepak.
Beide pasiënte is verder behandel en in 'n stabiele toestand na die hospitaal geneem.
Die reddingsoperasie is suksesvol om 20:56 afgehandel. Cornel Knuppe, een van die groep se lede, het haar opregte dank teenoor die NSRI uitgespreek.
"Dit was veronderstel om net 'n lekker Sondagmiddag-uitstappie te wees, toe een van ons vriende in die koue water in hipotermie ingaan. Die ander het iewers langs die pad geval en sy skouer beseer, maar hy het nie vreeslik gekla daaroor nie.
"Ek het hom nie gesien val nie, maar toe die paramedici hom behandel kon hulle agterkom dat dit nogal 'n ernstige besering was. Drie van ons het gaan soek vir selfoonsein terwyl die ander by dié twee gebly het.
"Die NSRI het vinnig en professioneel gereageer - hulle was ongelooflik. Ons is só dankbaar vir hul hulp. Ons is gelukkig om sulke toegewyde mense in ons gemeenskap te hê," het sy gesê.
Een persoon is vir hipotermie en ’n mediese kondisie behandel terwyl die ander beserings tydens ’n val opgedoen het.
Klik hier vir 'n vorige artikel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’