GEORGE NUUS - 'n Kosbare antieke kas uit die 18de eeu is vroeër vandeesmaand vir R211 050 verkoop op 'n veiling deur die plaaslike afslaers, Traders Auction Group.
Die kas, van Kaapse stinkhout en beeshout, is deur 'n oorsese koper gekoop en gaan gehuisves word op 'n Kaapse wynplaas.
"Dit is belangrike Afrikana-erfenis. Dis 'n pragtige kas met geweltop met loofversiering," sê Wayne van der Klashorst, eienaar van Traders Auction Group.
Antieke-kenner Okkie Stander het bevestig dis 'n Ou-Kaapse Barok-kabinet uit die 1770-1790's.
"Ons was verras met die prys wat behaal is, veral gesien in die lig van die huidige ekonomiese toestande. Dit is beslis bo die verwagte markverwante prys," sê Van der Klashorst.
Die kas het oorspronklik behoort aan Robert Moffatt wie se naam sinoniem is met die Kuruman-sendingstasie.
Hy het Setswana aangeleer en 'n volledige vertaling van die Bybel in hierdie taal in 1857 voltooi wat op die sendingdrukpers in Kuruman gedruk is, die eerste keer dat die Bybel in sy geheel in Afrika gedruk is, en ook die eerste keer in 'n voorheen ongeskrewe Afrikataal.
Die kas was uiteindelik in die besit van sy kleindogter, prof. Jane Wartenweiller, na wie die biblioteek van die Witwatersrand Universiteit vernoem is.
Na haar dood is die kas tydens 'n huisverkoping van haar besittings deur Thorntons Auctioneers van Johannesburg aan 'n geoloog verkoop en met laasgenoemde se dood het 'n kliënt van Van der Klashorst die kas aangekoop, namens wie dit by die onlangse veiling verkoop is. Die oorspronklike katalogus is saam met die kas verkoop.
Die veiling het aanlyn plaasgevind en die kas was een van 822 lotte. Volgens Van der Klashorst, hou hulle die afgelope drie jaar maandeliks so 'n antieke veiling.
"Aanlynveilings was ons reddingsboei tydens die Covid-pandemie. Rekordpryse is ook op die ander lotte behaal tydens die mees onlangse veiling. Mense vanoor die land het gekoop, veral ook binneversierders."
Benewens meubels was daar ook porselein, kuns, juweliersware, eetgerei, 'n munt- en skaalversameling, en Persiese tapyte onder die lotte wat afkomstig was uit twee bestorwe boedels en een privaat versameling.
"In vandag se ekonomiese klimaat is hierdie tipe van veiling 'n gewilde manier om 'n goeie prys te behaal op items wat mense nie meer nodig het nie of dalk dringend moet verkoop," sê Van der Klashorst.
Hierdie antieke handgeverfde houtkis in die Louis XVI-style vir R18 760 op dieselfde veiling verkoop.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’