Update
MOSSELBAAI NUUS - Die motorfietsryer wat gister in ‘n ongeluk op Louis Fourieweg dood is, Amoné Botha (22), se pa, Pierre Botha, het met Mossel Bay Advertiser oor sy geliefde dogter se onverwagse dood gesels.
Amoné was gisteroggend na ‘n motorfietsryer herinneringsdag-parade by Die Punt onderweg toe sy op Louis Fourieweg beheer oor haar motorfiets verloor het en teen ‘n boom vasgery het.
“My hart is stukkend,” het ‘n emosionele Botha ‘n dag na sy dogter se dood aan die Advertiser gesê.
Amoné is op Mosselbaai gebore en het volgens haar pa met motorfietse grootgeword.
Botha sê hoewel motorfietsry sy dogter se groot passie was, het hy haar gedurig gewaarsku oor die gevare daarvan.
“Ek het gereeld vir haar gevra om op te hou motorfietsry, maar sy het my later mooi gevra om haar liewer net te los.”
Hy sê Amoné het vir hom gesê, indien sy iets sou oorkom, sy op ‘n motorfiets met ‘n glimlag sal "gaan".
“Dit is net jammer, want ons almal wat haar so lief het se harte is nou so seer.”
Botha was lief daarvoor om saam met sy dogter by die skietbaan te oefen.
Sy het haar kode 14 lisensie gekry en vragmotors bestuur.
Botha sê Amoné was ‘n uitstekende bestuurder en het vir ‘n vervoermaatskappy in George gewerk.
Nog geen begrafnisreëlings is bekendgemaak nie.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’