GEORGE NUUS - AfriForum Jeug het Saterdag 'n bakkievrag vol vullis opgetel in 'n groot skoonmaakprojek wat hulle in Victoriabaaiweg begin het.
Die George- en Knysna-jeugtakke het saamgewerk om die projek af te skop.
Jana Naudé, voorsitter van die George-tak, het gesê hulle is opgewonde oor die projek. Dit is die begin van 'n meer uitgebreide plan vir die gebied.
"Ons visie is om die gebied in die toekoms ook te ontbos, en inheemse bome te plant om sodoende die biodiversiteit in ons area te beskerm en die natuurlike skoonheid van ons omgewing te herstel."
Hulle het die openbare strook grond wat aan Victoriabaaiweg grens geteiken wat onder onwettige storting deurloop. Daar is ook digte uitheemse plantegroei wat die veiligheid van die omgewing raak.
Die AfriForum-lede is bygestaan deur die Strauss-gesin van die Victoriabaai-buurtwag wat verlede jaar deur AfriForum George op die been gebring is.
"Hulle het 'n groot deel tot die dag se sukses bygedra. Dit is ons doel om nie net die omgewing op te ruim nie, maar ook die gemeenskap te betrek en eienaarskap van ons eie toekoms te neem. Ons nooi alle lede van die publiek om aan hierdie inisiatief deel te neem en saam met ons die area verder skoon te maak en 'n veilige omgewing te skep. Saam kan ons 'n verskil maak," het Naudé gesê.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’