Gallery Video
GEORGE NEWS & VIDEO - Die omswerwinge van Adam, 'n African Grey-papegaai, het inwoners van voorstede in die oostelike deel van George, vir 'n paar dae aan die skarrel gehad.
Talle mense het die Herr-familie van Denverpark help soek na Adam, nadat hy op Maandag 22 Maart uit 'n hok ontsnap het wat hy met nog 'n African Grey, Eva, gedeel het.
Adam het sy eerste lewenslig in 2017 aanskou en sy huidige eienaars Sharon en Michael Herr het hom en Eva 'n tydjie daarna gekry.
Op Maandag 22 Maart het hul nagmerrie begin toe Adam die eerste keer ooit by die hok ontsnap het. Adam het eers in die tuin van die bure gaan sit. Van daar het sy omswerwinge begin. Hulle het dadelik per voet en motor gaan soek. In die volgende paar dae het 'n patroon hom herhaal. Iemand sien Adam en die Herrs haas hulle daarheen.
As hulle daar aankom, het Adam egter intussen aanbeweeg.
Hulle het aangehou om die gebied te fynkam. Saans het hulle selfs met flitse in bome gaan soek.
In een stadium het hulle plakkate met 'n foto van Adam laat maak en 'n kontaknommer as iemand hom gewaar.
Fotogalery: 'n African Grey-papegaai, Adam, is weer tuis
Sharon het ook rondgery met 'n klankapparaat met klanke van Adam.
Hulle was teen 'n wedloop in tyd gewikkel want die eerste drie dae van so 'n soektog is baie belangrik. Op Woensdag 24 Maart het Ceri Shackelton omstreeks 11:30 laat weet Adam is in 'n boom in haar tuin.
Sharon is daarheen, maar Adam was weer weg. Michael het later opgedaag en 'n rooistert sien uitsteek in 'n ander boom 'n entjie daarvan af. Dit was Adam. Hy het hulle herken en begin dans.
Weer het Adam egter die pad gevat en Michael is agterna. Hy het by 'n plek opgedaag waar mense staan om werk te soek. 'n Man het skynbaar Adam gevang toe hy baie moeg uit 'n boom geval het.
Die man wou nie dadelik vir Adam aan Michael gee nie. Toe Sharon opdaag het hulle die kontaknommer gebel.
Met die lui van haar selfoon het die man besef dis die wettige eienaars.
Een van die plakkate wat opgesit is in die soektog na Adam.
Foto: Eugene Gunning
Kyk 'n video hieronder:
Dankie aan almal wat gehelp het
Die Herrs is verheug dat Adam terug is en het hulle dank uitgespreek teenoor almal wat gehelp het.
Sharon het advies vir mense in soortgelyke situasies. As jou papegaai daarin slaag om uit te kom, beweeg dadelik in die rigting waarin hy/sy gevlieg het. Kyk in al die bome en roep die papegaai. Moet nooit moed opgee nie.
Michael, eienaar van Spring Tech, het gesê hy gaan nou die hok veiliger maak. As deel van sy werk, maak hy "veertjies" (springs) en hy gaan nou spesiaal veertjies vir die hok se hekke maak.
Volgens Michael is dit genade van Bo dat Adam terug is. Sy advies is om nooit hoop op te gee nie. Om te glo werp vrugte af.
Adam en Eva gee mekaar 'n "soentjie". Foto: Michael Herr
Adam, an Africa grey parrot, had residents of a few neighborhoods in the east of George running and talking for a few days. He belongs to Sharon and Michael Herr of Denver Park. He got out of his gage that he shares with another African grey parrot, Eve. He was found a few days later not far from where the Herr-family stays. They expressed their thanks to everybody that helped to find him and make sure he is safe.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'