TUINROETE NUUS - Volgende week kom toer die kunstenaar Lidi de Waal in die Tuinroete saam met die Tuinroete se eie nasionale ster-sanger, Petronel Baard.
Hulle doen ’n reeks vertonings, Kuiers om die son. Vir hierdie toer en ook later vanjaar, wanneer hulle verder deur die land toer, doen Lidi veral voorlesings uit haar boek oor katte, Miaau.
Dit is kostelike gedigte, en vir die toer noem hulle dit Kuiers om die son - My herfskatjiepiering.
Petronel kombineer dit met pragtige musiek en Lidi, ’n inwoner van Yzerfontein op die Weskus, bring van haar kuns.
Lidi skryf gedigte en kort prosa, en sy is ook ’n digitale kunstenaar.
“Ons belowe lekker lag en eerlike oomblikke vasgevang om musiek en gesellige samesyn,” sê Petronel.
Die toer loop soos volg:
• Donderdag, 10 April, 18:00, Knysna, by Helena Gerber - ’n huiskonsert. Bring jou eie piekniek. Besprekings: Helena by 082 657 1142.
• Vrydagoggend, 11 April is Lidi ook met haar kuns by Art on Queen in Knysna, vanaf 09:30 tot omtrent 11:00, as jy haar wil ontmoet.
• Vrydagaand, 11 April, 19:00, is die duo by Attic Atelier, George, waar daar tans ’n pragtige bijou-kunsuitstalling is. Die vertoning val daarmee saam. Bring jou eie piekniek.
Kaartjies is beskikbaar by Quicket: My Herfskatjiepiering. Navrae kan aan Petronel by 082 737 8416 gerig word.
• Saterdag, 12 April, vier Petronel haar verjaardag saam met Lidi, met ’n vrolike vertoning by Salty River Beerhouse op Klein Brak.
Besprekings by Chris by 082 713 5082. Vir die eerste drie vertonings bring mense hul eie piekniekgoed. By Salty River is daar kroeg- en restaurantfasiliteite (’n pizzahuis).
Petronel Baard.
ONDER: Lidi se kunswerke.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’