GEORGE NUUS - Monica Jordaan (néé Breytenbach) is een honderd jaar gelede, op 30 September 1922 uin Bonnievale gebore.
Haar verjaarsdagpartytjie verlede Vrydag, 30 September, was 'n groot makietie by Blue Mountain Haven, met familie en vriende.
'n Inwoner het trekklavier gespeel, daar is gesing en 'n personeellid het met die verjaarsdagnooi gedans. Hier volg 'n kort beskrywing van haar lewe, soos geskryf deur haar dogter, Zabè Ferreira.
“My ma het my pa, Jacobus Louis Jordaan, tydens haar verpleegopleiding by die Grootte Schuur-hospitaal ontmoet. Hy was 'n mediese student by Ikeys en het sy hospitaaljaar in Port Elizabeth gedoen, waar sy toe ook vir die jaar gewerk het. Hulle het in 1946 getrou en hy was vir 18 jaar in 'n eenmanspraktyk in Barkly-Oos. Hulle het vyf kinders daar gehad.
Daarna het hulle na Milnerton in die Kaap verhuis, waar hy direkteur van hospitaaldienste was. Hy is in 1991 oorlede. My ouers het 11 kleinkinders gehad, waarvan twee seuns oorlede is (een op 21 en die ander op 35), maar hulle is geseën met 15 agterkleinkinders.
Sy het tot op die ouderdom van 94 nog op haar eie gewoon op Woodbridge Eiland, Milnerton, en elke dag kilometers langs die see gestap.
Daarna het sy vir drie jaar in Seepunt by 'n plek vir onafhanklike bejaardes gebly, maar het later na Blue Mountain se Haven verhuis, waar sy nou nog is en goeie versorging kan geniet. Hulle het vir haar op haar verjaarsdag 'n ongelooflike onthaal aangebied - 'n oggendtee met heerlike eetgoed en musiek.
Een van die inwoners het trekklavier gespeel en almal het saam gesing en later het haar dogter klavier gespeel en een van die personeellede het met haar gedans.
Sy was haar lewe lank lief vir dans. Saterdag het die familie en vriende van die Kaap weer fees gevier by die Far Hills Hotel net buite George - 54 mense! Al vyf kinders en al hul kleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'