GEORGE NUUS - Twee dae voor Ria van Vuren se 100ste verjaarsdag het sy George Herald in haar blyplek verwelkom, hare elegant in 'n bolla in die nek vasgevang, netjies gegrimeer en haar skraal figuur kiertsregop.
Dit was moeilik om te glo sy het al 'n 100 jaar op die kerfstok.
Die sit- en eetkamer was reeds in gereedheid gebring vir haar partytjie op Saterdag 7 September. Familie en vriende het van heinde en ver gekom om in die groot dag te deel.
Sy het drie dogters van wie twee oorlede is, en agt kleinkinders, 12 agterkleinkinders, ses agter-agterkleinkinders, asook neefs en niggies wat nog leef.
Ria woon by haar jongste dogter, Anita en skoonseun Gene Sandham - sy in die hoofhuis en hulle in die woonstel.
Sy maak haar plek self aan die kant, was haar wasgoed, en haar tuintjie - haar groot liefde - versorg sy self. Volgens haar buurvrou, Helena Kearny, is die tuin nooit sonder blomme nie.
"Ria is merkwaardig. Sy bly aan die gang. Sy is elke dag mooi gegrimeer en 'n mens kan haar altyd deur 'n ring trek."
Dis net haar oë wat verswak, sê Ria, maar sy kyk nog graag TV op haar grootskerm. En wanneer Anita iewers heen ry, is Ria by. Anita sê hulle noem haar ma Miss Daisy.
"Ek ry haar oral heen rond in haar 1982 Mercedes. Ons speel ook graag kaart. Daar's altyd 'n paar rande op die spel en op die oomblik loop my ma voor."
Ria is in 1924 in Tarkastad gebore, maar nadat haar ouers Transkei toe getrek het, het sy in Mtata skoolgegaan en daar is sy ook op 19-jarige ouderdom met haar eerste man, Piet, getroud.
Sy was 'n kranige besigheidsvrou op haar dag en het vir sewe jaar 'n kafee op Port St John's besit. Sy vertel: "Dit was harde werk en vakansies was daar 'n toeloop van besoekers. Ek het daarna by 'n apteek op die dorp gewerk wat ek later by die apteker gekoop het."
Sy het graag tennis, gholf, rolbal en pluim-bal gespeel. "Ek was lief vir sport en het uitgeblink in alles, maar my drie dogters wou niks weet nie," lag sy. Sy het ook haar gesin se klere self gemaak.
Met 'n glinstering in die oog vertel sy van die keer toe sy op 53-jarige ouderdom die titel 'Oulikste Ouma van die Jaar' in De Aar losgeslaan het.
Hierdie vrou se fut is nog lank nie uit nie. En maak 'n mens 'n ophef van hoe goed sy vir haar ouderdom lyk, wil sy weet, "Hoe moet ek dan lyk?"
VIDEO op Ria se verjaarsdag:
'n Verjaarsdagkoek vir 100 jaar. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’