GEORGE NUUS - Almal sê altyd 'n mens is net so jonk soos jy voel, maar in die geval van Doreen Jacobs is dit waar. En miskien is haar geheim dat sy nooit kinders gehad het om haar sorge te gee nie!
Tannie Doreen, wat in 1993 in George kom woon het, het op Woensdag 9 November 'n hele 100 jaar oud geword. Sy vertel sy het nie net twee mans oorleef nie, maar ook 'n oorlog en al haar broers en susters.
Al het Doreen nie kinders nie, sou sy graag vier wou hê. Dit het haar egter die geleentheid gegee om te reis en baie dinge te doen saam met haar eerste asook tweede man. In die hokkiewêreld was sy bekend as mev. Martin toe sy getroud was met Jerry Martin.
Sy was betrokke by die sport toe sy self as jong kind gespeel het tot sy die president geword van, nie net van die Wes-Kaapse hokkievereniging nie, maar ook die Suid-Afrikaanse hokkieraad.
Doreen was ook deel van die oudste hokkieklub, Californian. Sy het in 1939 aangesluit en was in 1965 die afrigter van die junior meisies van die Californian-hokkieklub. Hier het sy in 1955 die Californian-sagtebalklub begin en was die eerste vroulike hoofskeidsregter vir sagtebal geraak.
Tannie Doreen en Glynis Kuscus
Ook spog sy met die titel as beste hokkieskeidsregter tussen 1977 en 1988, en is lewenslange erepresident van die Suid-Afrikaanse hokkieraad.
Doreen glo jy moet elke geleentheid aangryp en die beste daarvan maak. "My lewe was nie volmaak nie. Ons het arm grootgeword, maar dit het my nie gestop om te doen en te gaan waar ek wou nie.
"Brille en pille kom met ouderdom, maar jy kan nie net in jou stoel sit en wag vir die dood nie. As die dood aan my deur kom klop, dan is dit my tyd, tot dan gaan ek aan en doen en eet wat ek wil."
Doreen Jacobs het op 9 November 100 jaar oud geword. Sy wil almal bedank wat boodskappe, blomme en geskenkies gestuur het en sy wil veral dr. Thabo Makgoba van St. Mark's Katedraal bedank vir haar pragtige portret.
Toe sy in 1988 met Wilson Jacobs getrou het, het hulle vir bykans twee jaar in Kanada gaan woon. Haar 'aanneem' dogter van die afgelope 25 jaar, Glynis Kuscus, wat by haar woon en haar help, sê niks staan in hul pad om iets te doen nie.
"Die old lady se mond en kop staan vir niks terug nie." Glynis sê tannie Doreen het nog altyd opgestaan vir gelyke regte, veral in sport. Dis hoekom sy in 2012 met die Sport Legende-toekenning in hokkie vereer is - die oudste lid wat die toekenning gekry het.
Haar geloof is vir haar belangrik en dit maak haar hart swaar dat sy nie tans kerkdienste kan bywoon nie.
Haar kaktustuin is haar trots.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'