LEEFSTYL NUUS - Inskrywings het geopen vir die eerste Suid-Afrikaanse preserveerkampioenskappe, wat plaaslike vervaardigers die geleentheid bied om hul beste gepreserveerde produkte ten toon te stel.
Die kampioenskappe is oop vir vervaardigers en klein ondernemings regoor die land, en fokus op gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte in byna 200 klasse, insluitend konfyt, marmelade, blatjang, piekels, pesto’s en meer.
’n Kundige beoordelaarspaneel onder leiding van die kulinêre opvoedingspesialis, Susina Jooste as hoofbeoordelaar, sal die inskrywings beoordeel deur middel van ’n blinde proeproses, gevolg deur ’n onafhanklike oudit.
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, organiseerder van die kompetisie, sê dis ’n uitstekende geleentheid vir Suid-Afrikaanse vervaardigers om nasionale erkenning te ontvang, met rolspelers in die bedryf te netwerk en die kuns van preserveerwerk te vier.
“Met ons jare lange ervaring in die aanbied van die Suid-Afrikaanse suiwelkampioenskappe, is ons opgewonde om ons verbintenis tot uitnemendheid in landbouverwerking uit te brei na hierdie kreatiewe en dinamiese sektor,” sê Milford.
“Dié nuwe kompetisie sal uitsonderlike produkte vereer en voortdurende verbetering en innovasie in die preserveerbedryf aanmoedig.”
Enige produk wat ingeskryf word, moet beskikbaar wees in sy onderskeie mark teen die tyd van inskrywing en moet verkrygbaar wees vir die publiek, byvoorbeeld in winkels, padstalle of by markte.
Inskrywings sluit op 25 Junie, met laat inskrywings wat tot 1 Julie aanvaar sal word. Produkte moet afgelewer word op 21 of 22 Julie, met beoordeling wat op 23 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasvind. Die toekenningsgeleentheid vind plaas op 6 Augustus.
Die inskrywingsfooi is R150 (BTW uitgesluit) per inskrywing, en die laatinskrywingsfooi ná 25 Junie is R250 (BTW uitgesluit) per inskrywing.
Inskrywings is nou oop vir die eerste Suid-Afrikaanse preserveerkampioenskappe.
Om in te skryf, moet deelnemers ’n aanlynvorm voltooi by http://www.sapreservechamps.co.za.
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan charlotte@agriexpo.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’